Jongboere in opmars
THABAZIMBI – Te oordeel aan die geweldige belangstelling in die aktiwiteite van Agri NW se Jongboervereniging soos ook tydens sy pasafgelope Konferensie te Lichtenburg, kan ‘n mens nie anders nie as om bemoedig te wees oor landbou se rol in die provinsie, sê Jaco Maré, Voorsitter van die Vereniging.
Die ongeveer 1500 jongboere wat die afgelope tyd in Noordwes tot Boerdery toegetree het, is ‘n geweldige dinamiese groep met ‘n eiesoortige benadering tot die uitdagings van landbou. Een hiervan is volgens Maré die bestuur van kommersiële landbou binne die huidige politieke bedeling. Jong boere is uitstekend toegerus om hierdie uitdagings soos die volhoubare kommersialisering van boervestiging, mentorskappe en die toepassing van uitvoergerigte produksie- en bemarkingspraktyke aan te spreek. Konstruktiewe betrokkenheid by hierdie proses eerder as destruktiewe pessimisme, wat boonop ‘n wanpersepsie van ‘n trotse landboubedryf skep, is die antwoord. Die jongboere is juis ook tydens die Konferensie deur die welbekende motiveringspreker, Claude Möller oor konstruktiewe betrokkenheid, toegespreek.
Die Vereniging het vanjaar ook sy tweede Noordwes Jongboer van die Jaar tydens ‘n gala-funksie aangewys. ‘n Groot getal inskrywings is ontvang waaruit vyf finaliste aangewys is. Die beoordelaars se keuse het uiteindelik op Casper Botha van die plaas Rooidraai, Rysmierbult, geval. Maré sê Botha sal ‘n waardige deelnemer in die Nasionale Toyota SA Jongboer van die Jaar kompetisie wees. Daar is min twyfel dat die Dubbelkajuit Toyota bakkie wat die eerste prys is, sy tuiste in Noordwes sal vind.
Jongboere kan ook uitsien na ‘n aantal prestige geleenthede wat vanjaar nog aangebied sal word. Een hiervan is ‘n kollektiewe aksie in samewerking met Senwes, Vrystaat Landbou en Graan SA by die Nampo-Oesdagplaas op 16 September 2004, aldus Maré. Hou gerus die pers dop.
Verdere navrae oor Agri NW se Jongboervereniging kan gerig word aan Jaco Maré by telefoon (018) 4511150, faks (018) 451 1150, sel 082 388 4294 of E-posadres: jacomare@lantic.net of Willie Auret by telefoon (018) 6322987/6323612/6323624, faks (018) 6322512, sel 082 388 1722 of E-posadres: nwlu@isdnet.co.za