Dankie vir sulke mense
As daar nou twee mense is waarop Thabazimbi trots kan wees dan is dit Johan en Gerrie Muller van Eerstelaan 16, Thabazimbi.
Op 27 April 2004 het ons hier in Thabazimbi, vanaf Nigel, aangeland nadat ‘n firma waarvoor ons kontrakteurswerk doen ons hierheen gestuur het. Ons sou op Woensdag 28 April 2004, om 08:00, hier begin werk het.
Die streeksverteenwoordiger van die firma sou ons ook hier ontmoet het om ons aan die bestuurder van die plaaslike besigheid, vir wie ons hier, namens hulle, werk sou kom doen, voorstel. Op die afgespreekte tyd, die volgende dag, het hy nie opgedaag nie. Tot nou toe!
Later het ons besef dat ons deur die betrokke streeksverteenwoordiger mislei is. Ons is letterlik en figuurlik deur die firma gestrand gelaat. Ons kon geen reëling in verband met ons huisvesting nakom nie en moes noodgedwonge die finansies tot ons beskikking aanwend om te oorleef en moes ons die woonstel waarin ons sou woon, ontruim.
Ons sou letterlik op straat gesit het as dit nie vir Johan en Gerrie, beide van bekende besighede in die dorp, was wat hulle oor ons ontferm het en ons in ons nood bygestaan het nie. Sonder om te skroom het hulle, hulle huis vir ons oopgestel totdat ons êrens geholpe kon raak. Hulle het geen koste ontsien om ons gemaklik te maak nie.
Ons wil hulle graag langs hierdie weg bedank vir hulle onbaatsugtige omgee optrede.
Voorwaar mense waarop die dorp trots kan wees.
Herman en Elize Meyer
082 764 6404