Sport

Thabazimbi Klubrolbalkampioenskappe

THABAZIMBI – Wimpie de Koker van Thabazimbi Rolbalklub is tydens die mans enkels klubkampioenskappe as kampioen vir 2004 gekroon. Die naaswenner is Archie Benadé.
Thabazimbi Rolbalklub het gedurende 17 en 18 Mei drie verskillende kompetisies op Thabazimbi se baan aangebied naamlik, Mans klubkampioenskap, Waterberg gemengde vierspel finaal en die jaarlikse Spar dames pare kompetisie.
In die SPAR pare kampioenskap is Elsa Becker en Shirley Loteringe as kampioene vir Thabazimbi gekroon terwyl Marietjie Benadé en Karlien van Staden as naaswenners aangewys is.  Die kampioenspan gaan op Vrydag 28 Mei en Saterdag 29 Mei te Potgietersrus verder aan die Provinsiale kampioenskap deelneem. Die dames SPAR pare kompetisie word tot op nasionale vlak uitgespeel. Thabazimbi SPAR het weereens die dag geborg en die klub bedank die SPAR personeel vir hulle belangstelling in sport in Thabazimbi.
Die Waterberg gemende vierspel se finaal was tussen ‘n span van Bela-Bela en ‘n span van Thabazimbi Rolbalklub wat bestaan het uit Archie Benadé,  Marietjie Benadé, Armand van Staden en Karlien van Staden.  Die span van Thabazimbi moes na ‘n taai stryd ongelukkig die knie buig teen Bela-Bela.  Albei die spanne gaan later vanjaar sake uitspook om die Limpopo kampioene te kroon.
Vier van Thabazimbi se spelers is ook genooi om aan die Mini Meesters toernooi deel te neem wat op Bela-Bela vanaf Saterdag 22 Mei tot Sondag 23 Mei aangebied word. Hulle is Archie en Mariejie Benadé,  Elsa Becker en Karlien van Staden.  Na afloop van die toernooi het Archie Benade die tweede plek in die mans afdeling beklee en Marietjie Benade het in die derde plek in die dames afdeling geëindig.  Thabazimbi Rolbalklub wil ook al die borge wat hulle ondersteun het met die SA Eagle mans nasionale kampioenskappe te Johannesburg bedank.  Hulle is: Le Carbone, Mastersplice and Termination, Topcoat, Marietjie Joubert, Leeukop Korrektiewe Dienste en S&H Plant. Die vier mans wat aan hierdie toernooi deelgeneem het was Archie Benadé,  Wimpie de Koker, Armand van Staden en Schalk Stiglingh.
Thabazimbi Rolbalklub nooi weer alle belangstellendes om aan te sluit by die klub.  Hierdie is ‘n klein klub wat baie goed vaar in die distrik. Indien u nie kan speel nie sal hulle u leer en bystaan. Rolbal is ‘n gesin sport wat deur almal gespeel kan word.