EditorialEntertainmentFeatured

ATKV– Skryfkunskompetisie 2025

Suid-Afrika – Kry jou stories agtermekaar

Die tyd het weereens aangebreek vir die jaarlikse ATKV Skryfkunskompetisie wat deur die Thabazimbi ATKV-tak in samewerking met die ATKV en die KunsteGrot aangebied word.

Vanjaar vier ons ook die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as een van die amptelike tale van Suid-Afrika, nadat dit reeds in 1925 saam met Engels as een van die land se twee amptelike tale aangewys is.

Dit is jou trots en jy mag jaloers daarop wees want dit lewer die meeste koerante en tydskrifte op in Suid-Afrika en is ʼn gewilde skryftaal, met bekroonde skrywers, digters en liedjieskrywers. 

Langenhoven het dan ook heeltemal tereg daarop gewys dat – “Afrikaans die grootste enkele prestasie is wat nie saam met die witman van oorsee af gekom het nie.”

Kry die skryfgoed dus gereed en vier Afrikaans se 100ste vejaarsdag as amptelike taal, wat wêreldwye erkenning op alle gebied geniet, te vier met die ATKV Skryfkunskompetisie wat deur die Thabazimbi ATKV-tak aangebied word.

Hierdie geslaagde Skryfkunskompetisie word sedert 2011 jaarliks aangebied met nuwe talent wat telkens na vore tree.

Carla van der Spuy, bekende skrywer en joernalis, was verlede jaar die beoordelaar van die Kortkuns Afdeling en het met die aankondiging van verlede jaar se wenners aan Kwêvoël genoem dat “Dit opwindend is om nuwe talent te ontdek en te sien wie almal in die skryfkuns belangstel.”

Sy het ook verwys na ʼn Graad 9 meisie wat sedert Gr 3 elke jaar vir die kompetisie ingeskryf het, “Sy het soveel natuurlike skryftalent en is so ‘n nederige kind,” en verder, “En dan is daar pensioenarisse met ‘n leeftyd se wysheid wat die pen opneem. Party duidelik belese.”

Sy het haar kommentaar afgeëindig deur te sê:

“Nou afgehandel. Lekker gelees – Daar was ook ‘n hele paar nuutskeppings – Die geesdrif vir Afrikaans laat my hart bokspring.”  

Die kompetisie trek inskrywings landwyd en daar word gereeld vanuit die Wes-Kaap en Namibië inskrywings ontvang.

Die Skryfkunskompetisie word in drie afdelings aangebied naamlik Laerskole, Hoërskool en Volwasse Afdelings met die drie onderskeie kategorië van Poësie/Gedig, Prosa/Sketse en Kortverhale, waar die kortverhale, vir beoordeling doeleindes, verkieslik tussen 800 en 1500 woorde moet beslaan.

Waar is daardie storietjie wat jy al so lank binne jou ronddra? Grawe hom uit en skryf in.

Wie van ons het nie op een of ander stadium ʼn eenvoudige rympie saamgeslaan nie, of selfs die pen opgeneem om jou gedagtes in gedigvorm te giet?

Dit is duidelik ʼn begin vir die meeste skrywers want die Poësie/Gedig Kategorie is dié een wat die beste ondersteun word en die meeste inskrywings per deelnemer oplewer.

Elke inskrywing moet van ‘n inskrywingsvorm vergesel word en ʼn maksimum van drie inskrywings per kategorie word per deelnemer toegelaat.

Inskrywingsfooi beloop R50 per inskrywing (Prysgeld vir wenners is op sommige kategorië op die spel) en inbetalings kan per EFT gedoen word aan:- Rek Naam: KunsteGrot – Bank: Capitec Bank (Thabazimbi Spaarrekening) –
Rekening Nommer: 1440617889. Gebruik jou naam en die Skryfkuns kategorie as verwysing.

Inskrywings kan ook per e-pos aan rivo@kunstegrot.co.za gestuur word – Volg asb op deur die organiseerders by 083 744 8559 te kontak.

Gebruik die aangehegte inskrywingsvorm – ook beskikbaar op aanvraag by rivo@kunstegrot.co.za

Alle inskrywings word uiters vertroulik hanteer en beoordeling word deur onafhanklike bekwame en erkende beoordelaars gedoen.

Vir die reëls en verdere inligting, verwys na die aangehegte Skryfkuns Kompetisie 2025 inligtingvorm.

Staan saam en vier Afrikaans met jou pennevrug – Met ander woord: Begin nou reeds skryf want die Kompetisie se sluitingsdatum is 1 September 2025.

Besoek “Home” heel boaan die title-bladsy vir talle berigte wat jy dalk misgeloop het asook vorige plasings.

Besoek ook Kwêvoël op Facebook by www.facebook.com/kwevoel vir meer berigte wat jy dalk gemis het – Deel (share) ook met jou vriende