Ouma se Tassie is gepak vir Thabazimbi
(Dowwe Dolla het glo help pak)
Die geheim is uit – Ouma Is Op Pad. Op Pad na die KunsteGrot in Thabazimbi wanneer sy op Saterdag 12 April die gehoor gaan vermaak waar sy haarself op die verhoog gaan tuismaak met hierdie uitstekende Komedie/Kabaret.
Ouma se storie het met die van Dowwe Dolla eintlik vervaag toe sy in 2021 saam met Dowwe Dolla afgetree het – Maar almal wou steeds weet wie daai ou tannie was wat almal so aanstoot kon gee.
Ouma kon die stilsit nie langer hanteer nie en besluit dat sy nog ʼn paar dinge het wat sy wil kwyt raak. Dié dat sy weer haar tassie gepak en die pad gevat het.
Margit Meyer-Rödenbeck wat die rol van Dowwe Dolla vir jare so meesterlik vertolk het en in die volk se hart ingekruip het, kom nou terug in die rol van Ouma, en met Coenraad Rall op die klavier kan die gehoor lekker terugsit en hierdie uitmuntende opvoering geniet.
Hierdie is die skepping van Jurgen Human wat verantwoordelik was vir die Teks/Lirieke en Regie.
Ouma moet nie ligtelik opgeneem word, los die kinders onder 14 by die huis want Ouma se taalgebruik is nie vir die jong oortjies bedoel nie.
Ouma kom eintlik van Garies af. ʼn Formidabele vrou en produk van die Knersvlakte.
Hier word jy nie groot met luukshede soos doekies omdraai nie. Sy het reeds twee mans begrawe maar die bure vermoed die laaste een het net “ingesluimer”.
Haar kleindogter werk nou in die stad, die dat sy wan en dan daar moet gaan kuier. Op die manier het Ouma uitgevind dat daar is baie dinge wat sy nie KEN nie – TAKT is een van hulle.






Na die opening van ‘Ouma’ by die KKNK 2024, skryf Rafiek Mammon in die Burger van 29 Maart:
Meyer-Rödenbeck is nou maar eenmaal ʼn staatmaker op soveel vlakke. As aktrise stel sy nooit teleur nie; nog minder as komediant.
En nog minder as intelligente waarnemer van die menslike toestand. Meng dit met storievertellery uit die boonste rak, dan is jy mos in die komediehemel – daar waar Tolla van der Merwe en Jan Spies vir hulselwers plek gemaak het.
Hierdie is nie alleen die geleentheid om vir Margit Meyer-Rödenbeck weereens op die verhoog te beleef nie, ʼn posisie wat sy deeglik verdien nadat sy laasjaar as die beste aktrise vir haar rol as ‘Ouma’ by die Aardklop Kunstefees benoem is. Hierdie produksie dan ook die topverkoper by die Vrystaat Kunstefees.
Bespreek sommer nou jou kaartjie by Rita van die KunsteGrot by 083 744 8559 en voorkom teleurstelling.
Onthou Saterdag 12 April om 19:00 by die KunsteGrot op Thabazimbi.
Kaartjies kos R200 en pensioenarisse betaal net R180 – Moet dit nie misloop nie.
Pak gerus ook maar die piekniekmandjies of bestel vooraf ʼn boks lekkernye van @Matriarg (Sien advertensie).
Kom vroegtydig om bietjie saam met die ander teatergangers vooraf te kuier vir die vertoning wat stiptelik om 19 :00 begin.

