Lang pad sonder water
Sonder kos kan jy vir nogal lank klaarkom, jou liggaam het genoeg gestoorde vette om jou te kan dra maar sonder genoegsame voginname vind dehidrasie plaas met ernstige gevolge op die langtermyn soos verlies van vloeistof in jou ooglense wat jou sig beïnvloed en in erger gevalle hallusinasies, veral in ouer mense.
Die watertekorte in Thabazimbi stap al ‘n lang pad met die vroegste digitaal opspoorbare berig, van ʼn reeks berigte oor Thabazimbi se waterverskaffings-probleme, wat reeds op 15 Oktober 2005 in Kwêvoël gepubliseer is.
Watertekorte lei tot ander probleme – Nie net word die water wat nodig is vir lewensfunksies vinnig uitgeput nie, daar is boonop die sekondere probleme buiten om dors te word, naamlik die verlies aan liggaams higiëne wat ernstige siektes soos cholera kan veroorsaak indien water beperk is en die gehalte van water afneem dat dit besoedel kan raak.
Daar kon vroeër berigte gewees het maar hierdie is die vroegste berig wat digitaal op Kwêvoël se internet tuisblad geplaas is en sedertdien binne alle internetgebruikers se bereik was, en steeds is, dit is indien jy as leser werklik hierin belang sou stel.
Die berig is op 15 Oktober 2005 geplaas onder die opskrif – Was jy die week sonder water? (Kry dit by die soekfunksie by www.kwevoel.co.za – tik net die opskrif in)
Vir ʼn week moes inwoners sonder water klaarkom nadat daar in die Thabazimbidorp en Regorogile ʼn dringende waternood ontstaan het. Die munisipaliteit moes reeds daarvan bewus gewees het aangesien daar reeds twee weke vantevore waterbeperkings vir die dorp ingestel is.
Op Kwêvoël se navraag by die munisipaliteit nadat die dorp sonder water moes klaarkom, het die Munisipale Tegniese Departement die volgende as rede hiervoor verskaf, en ek haal uit die berig aan:
“Thabazimbi se water word vanaf die pompstasie na die reservoirs in die dorp gepomp. Dit bereik die Yskor reservoir, wat 9.2 megaliter water hanteer, en word vandaar deur ‘n boosterpomp in die network verder versprei.” (Sien die foto van dié reservoirs op die stadium dat AfriForum sy aksieplan geloots het om Thabazimbi se watervoorsiengsprobleme hok te slaan. Berig Kwêvoël 16 Mei 2024 – Foto’s verskaf deur AfriForum).
“Wanneer die netwerk voldoende water het begin dié water die Uitbreiding 5 reservoir, wat 4.5 megaliter water kan dra, te vul.”
“Die afgelope twee weke was Uitbreiding 5 se reservoir feitlik leeg en die Yskor reservoir op 20% volume.”
“Die munisipaliteit het besluit om die boosterpomp af te skakel sodat die twee reservoir’s kans kon kry om gevul te word. Die afskakeling van die boosterpomp het bygedra tot swak drukking of selfs geen water vir inwoners van Arendlaan tot by 8ste Laan nie.”
Daar word nie genoem dat hierdie onderbreking in watervoorsiening was direk die geval dat al die waterpompe by die pompstasie buite werking was en dat daar ook nie ‘n bystandpomp in werkende toestand was vir ʼn noodgeval soos hierdie nie. Dit sou eers baie later aan die lig kom na ‘n besoek deur Kwêvoël op uitnodiging van die destydse Iscor-mynbestuurder aan die pompstasie toe hulle antwoorde wou hê op hoe die geld, wat hulle vir die opgradering van die pompstasie geskenk het, spandeer is.
Die werklike probleem is destyds nooit genoem nie, naamlik die laksheid, onvermoë en ongeërgdheid van die raad om enigsins onderhoud te doen op die watervoorsiengstelsel – Soos pompe onklaar geraak het, is die stukkende pomp net eenvoudig uit die watertoevoerstelsel verwyder.
Sedertdien is die hulp van die myne ingeroep om ‘n diens en onderhoud gratis te verskaf waarvoor die munisipaliteit in elk geval betaling deur munisipale belastings deur inwoners en bystandvondse wat die sentrale regering vir instandhouding aan munisipaliteite verskaf.
Hulle het eenvoudig alle noodsaaklike elemente van die infrastruktuur wat daar gestel is vir aaneenlopend instandhouding en verskaffing van diens, afgetakel totdat daar niks meer oor was om dienste te kan lewer nie.
Baie inwoners verlang deesdae weer na die waterpoorte van die “Demokratiese” beheer, wat die dorp juis in die afgrond in bestuur het, net so dringend soos wat die ou Israeliete tydens hul uittog na die “Beloofde Land” na die vleispotte van Egipte terug verlang het.
Hulle was bereid om eerder die slawerny in Egipte te verduur as die werklike belofte van ʼn nuwe toekoms in die Beloofde Land.
In Thabazimbi se geval is daar nie sprake van ʼn beloofde land nie, maar wel die kennis dat indien die DA koalisie tot ʼn einde kom, die krane van Babilon deur Magalies Water weer vol oopgedraai sal word, nieteenstaande die swak beheer oor instandhouding en gate in die voorsieningspype wat dan weer in die pyplyn (sic) is.
Net soos die Magalies Water se rekening met miljoene toegeneem het tydens die Covid-Skrik, toe almal moes leer om meer higiënies te lewe en hul hande voortdurend te was, gaan dit nou weer gebeur indien die koalisie sou platval.
Met die Covid pandemie wat sy donker wolk oor die land laat hang het, het Magalies Water op aandrang van die sentrale regering eenvoudig net die waterkrane oopgedraai en groot hoeveelhede water is aanmekaar na die munisipaliteit gepomp.
Water was orals beskikbaar, nie net in die dorp nie, maar ook al langs die pyplyn vanaf die pompstasie tot in die dorp, soos liters en liters water in die veld verlore gegaan het.
Pogings om onderhoud op die pyplyn te doen is vererger deur die boetes en afbetaling van wan- en agterstalligebetaling vir dienste gelewer deur Magalies Water en Eskom skuld aan die die (destydse) munisipale raad wat Thabazimbi sedert die eerste demokratiese verkiesing totdat hulle verslaan is gedurende 2016 regeer het.
Die DA geleide koalisie van Thabazimbi munisipaliteit is gelos met ongekende skuld en daar was nie geld vir noodsaaklike instandhouding nie. Instandouding wat reeds vir sowat dertig jaar van te vore nie op ʼn gereëlde grondslag gedoen is nie.
Die Balju het op daardie stadium reeds beslag op munisipale voertuie en kantoortoerusting gelê voortspruitend uit die regsgedinge teen die ANC beheerde munisipaliteit as gevolg van die munisipaliteit se onvermoë en versuim om hul skuldeisers te betaal.
Hier kan genoem word dat waar daar geen instandhouding gedoen word op byvoorbeeld pyplyne, kragtoevoer, spoorlyne en paaie nie, die situasie bereik word dat die hele stelsel vervang moet word. Gereelde instandhouding sou op die ou einde net ‘n fraksie van die vervangingskoste hiervan beloop het terwyl die totale ineenstroting verhoed kon word.
Dink hieraan voordat jy die skuld vir die water dilemma op die nasie se afvalligheid van ʼn opperwese opdra, of om jou hoop op die bevrydende groep wat jou na die vleispotte van Egipte kan terugneem, of om die beloftes van vollop water wat as oplossing vir hierdie probleem gebied word sonder drastiese verhoogde belastings op die inwoners af te laai, te aanvaar of te glo.
In plaas daarvan dat die werklike oorsaak van die watertekort in 2005 destyds op die lappe gekom het, is die probleem vir die erge waterbeperkings direk voor die deur van die inwoners geplaas wat hulle nie by die bepalings van die waterbeperkings gehou het nie.
Die werklike probleem was dat die Munisipale raad, wat toe in beheer was van alle funksies van die muinisipaliteit, reeds besig was om geen behoorlike instandhouding op dienste en infrakstruktuur te doen nie.
In Kwêvoël se berig word genoem dat die boosterpomp wat die water in die verdere network in die dorp en Regorogile vanaf Yskor se 9,2 megaliter reservoirs versprei op daardie stadium afgeskakel is aangesien hierdie reservoirs slegs sowat 20% vol was, te min om die res van die reservoirs van water te voorsien.
Daar moet net genoem word dat die Yskor reservoirs teen die berg, bokant die dorp geleë is.
Die dorp is vroeër van water voorsien deur die hoër druk in die pype weens die feit dat die reservoirs heelwat hoër as die eerste voorsieningspunte, wat op daardie stadium die hospitaal bokant Eerstelaan, Helshoogte en die Ipelegeng woonbuurt, geleë was.
Die Yskormyn het sy eie watervoorsieningstelse gehad wat, buiten die feit dat dit dieselfde pompstasie reg langs die Rustenburg- en Britspaaie langs die Krokodilrivier gedeel het, mekaar nie beïnvloed het nie.
Dit is nou tensy probleme ondervind is in watervoorsiening vanaf die pompstasie na die Yskor reservoirs bokant die dorp en die Yskor ystererts verwerkingseenheid (voorheen bekend as die “Plant”).
Om so ʼn situasie te voorkom, was daar nie net een pomp by die pompstasie geïnstalleer nie maar sover my wete strek, was daar vier pompe waarvan drie op hul eie die watervoorsiening kon hanteer.
ʼn Addisionele pomp, in werkende toestand, was heeltyd op bystand gereed om geïnstalleer te word sou daar ʼn probleem met een van die pompe ontstaan.
Gedurende die vroeër jare, met verwysing na die tydperk toe die dorp ontwikkel is om huisvesting aan die mynwerkers te verskaf het die myn saans, sodra die dorp se watergebruik afgeneem het en werksaamhede in die myn vir die dag afgehandel is (ek verbeel my dat die myn destyds van baie vroeg die oggend tot die aand so 8 of 9 uur gewerk het), water volstroom na die dorp se reservoirs gevoer om hierdie reservoirs eerste te hervul.
Vanaf my ouers se plot “Moredou” teen die koppie net bokant die vliegveld, kan ek uit my kinderjare die groen liggie wat vanaf die plot teen die Thabazimbiberg sigbaar was onthou sodra die dorp se reservoirs weer vol water was.
Hier word gepraat van die sestiger jare tot jare daarna voor die nuwe demokraties verkiesde munisipale regerings beheer van die meeste dorpe se dienste oorgeneem het. Dit is ook die stadium dat die munisipaliteit, net soos al die ANC beheerde munisipaliteite en regerings instansies soos Eskom, instandhouding as ʼn onnodige uitgawe hanteer het.
Hou Kwêvoël dop vir kommentaar op die volgende berig wat in Kwêvoël se tuisblad gepubliseer is op 4 April 2012. Dit was beslis geen Aprilgrap nie.
Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (Sedert 1983)