Baba- en Kleuter Kompetisie voltooi kringloop by die Thabazimbi Skou
Maande se vooraf beplanning met borge wat genader is, foto’s van die kleingoed geneem is en alles wat daarmee gepaardgaan het vanjaar die kringloop suksesvol voltooi met die aanwysing van die verskillende kategoriewenners van die Thabazimbi Skou Baba- en Kleuterkompetisie op 29 Julie tydens die jaarlikse Thabazimbi Skou.
Die tema vir die kompetisie vanjaar was “Parys” soos in Parys, die hoofstad van Frankryk waar romantiek, glinster aande en plesier hoogty vier. Dit is sekerlik ook dié stad op die wêreld se toeristelys waar mense van regoor die wêreld deel in die naglewe met straatkunstenaars, die jongleurs en troebadoere asook die hoogskop dansers wat op die verhoog bydra tot die feestelike partytjiegees van die stad.
Ouers en Marie Engelbrecht Photography het gesorg dat die baba’s en kleuters op hul beste getooi is vir die dag se plesier in Parys. Beoordelaars het behoorlik ´n stryd gehad om tussen die foto’s van al die mooi kleingoed wenners aan te wys, sodanig dat in een geval amper al die inskrywings die eersteprys verower het.
Hierdie was die een kompetisie waar elke deelnemer met ´n prys weggestap het.
Kategorie – Meisies
Kategorie – Seuns
Dit is reeds meer as tien jaar dat Medhof Apteek in Thabazimbi hierdie kompetisie as deel van die Thabazimbi Skou aanbied. Vanjaar was daar 47 inskrywings in die 13 katagorieë wat deelnemers van die ouderdom vanaf drie maande tot ses jaar gedek het vir beide meisies en seuns.
Vanjaar se aanbieding het gepaard gegaan met vermaak deur Surika Rabe en Odelea van der Nest met Paul Dreyer as klankman. Damasa Dance Studio het ook vir items gesorg en ouers en ander skougangers kon hier die standaard van dansklasse wat deur die Dance Studio aan hul dansers bied beleef.
Medhof Apteek het, buiten hulself as borg, met die aanbied van die kompetisie gepoog om heelwat plaaslike borge te betrek terwyl hul verskaffers ook meer opsigtelik gebied word in hul rol as verskaffers van die apteek in die dorp.
Mari Engelbrecht photography, Damasa dance studio, Eagle Mountain Spur en Bibs&Babes was meer direk by die kompetisie as borge betrokke terwyl die ander plaaslike borge ingesluit het Westpack, Limpopo Stationery, M.G laser & Engrave, Emma’s place, Abacus Maths, Little Flippers swim school, Daisy kids en Baltic Amber. Van die groter maatskappye was Cipla, Aspen, Sun Pharma, Mercury toys, J4K, Vital, Revite, Tibb en Studex ook betrokke.
Medhof bedank al hierdie borge wat verseker het dat die Thabazimbi Skou Baba- en Kleuter Kompetisie weereens suksevol aangebied kon word.