EditorialFeatured

Kwêvoël op 50 sent munstuk – Eer vir die plaaslike koerant

Nou, presies 40 jaar nadat Kwêvoël in 1983 sy groen vlerke* oor die Thabazimbi Bosveld uitgesprei het, het kwêvoël (deel van die loerie-spesies) amptelike erkenning ontvang, en dit nogal in die sin dat sy beeld verewig word op een van die land se nuwe muntstuke wat gedurende Januarie 2023 uitgereik word.

Hierdie eer deel die voël van Kwêvoël nou met die van Alexander die Grote, Caesar van die Romeinse ryk, konings van verskeie koninkryke en verskeie president en leiers van onafhanklik lande, ondermeer die van Suid-Afrika – van Onse Oom Jan tot Nelson en meer – (dis nou die eer, nie die voël nie).

Die kwêvoël vervang die strelitzia wat voorheen op hierdie munstuk gepryk het. Vorige voëls op ons munstukke het ingesluit mossies, iets wat lyk soos die groen indringer papagaai (die munstuk was bietjie oud en verweerd) en die bloukraanvoël, Suid-Afrika se nasionale voël.

Ongelukkig het die waarde van die rand so geval dat die kwêvoël nou maar slegs 50 sent werd is.

Die eerste uitgawe van Die Kwêvoël is op Maandag 15 Augustus 1983 uitgereik en uit die staanspoor het dit die ondersteuning van die Thabazimbi en -omgewing se inwoners geniet as die dorp se eerste amptelik koerant. Daarmee saam is dit ook een van die oudste publikasies onder dieselfde eienaarskap in Limpopo (die destydse Noord Transvaal).

Die Pos van Warmbad (Bela Bela) het een jaar vroeër hul eerste uitgawe gehad maar sedertdien het die eienaarskap sowat drie of vier keer van hande verwissel. Die meeste ander plaaslike koerante in Limpopo en in Suid-Afrika, is jonger as Kwêvoël en min van hulle is steeds onder die oorspronklike eienaarskap.

Uit die staanspoor was Kwêvoël (nadat ‘Die’ oorbodig geraak het en dit in ʼn rukwind verloor het) ʼn plaaslike produk in die volle sin van ‘plaaslik’. Die nuus is plaaslik inegewin, geskryf en geset. Advertensies is plaaslik gewerf en in Kwêvoêl se drukkery (Moredou Drukkers) opgemaak en dis ook waar die koerant gedruk is.

Selfs die foto’s is plaaslik geneem, die films in die drukkery se donkerkamer self vanaf ʼn 15meter rol op kleiner 35mm kasette gerol, ontwikkel en fotoafdrukke vanaf swart-en-wit negatiewe op fotopapier belig en ontwikkel.

Op die vertikale kamera is hierdie foto’s drukgereed gekry, net soos die talle koerantblaaie wat op die ligtafel uitgelê en op A3 films afgedruk is. Hierdie films is op die lithodrukplaat uitgelê waar die beeld op die aluminim plaat ingebrand is, gereed vir die Heidelberg Kord 64 drukpers.

Die klaargedrukte blaaie is met die hand gevou en daarna een vir een by mekaar ingevoeg om elke koerant uniek, handgemaak en getel by die verspreidingspunte af te lewer. ʼn Allemintige 3000 koerante weekliks.

Hier plaaslik was daar geen gekwalifiseerde personeel nie, mense met drukkery ondervinding op Thabazimbi was skaars en al die werkers, eienaar inkluis, het indiensopleiding ontvang en hulself geleer deur herhaling op herhaling. Spesiale vermelding aan wyle Mary Meyer, die enigste werker met deeglike drukkery ondervinding wat sedert die tweede koerant deel van die span uitgemaak en ons ander goed touwys gemaak het.

Dit was dus net die koerantpapier en drukkersink wat nie plaaslik was nie. Hierdie items saam met die grafiese benodigdhede is in Pretoria en Johannesburg aangekoop en self met Kwêvoël se bakkie en die Venter sleepwaentje aangery.

Weens gebrek aan plaaslike adverteerders asook die feit dat nasionalevlak adverteerders eerder invoegsels (gemorspos) verkies het nadat Caxton, een van die land se grootste nasionalevlak uitgewers met talle plaaslike koerante in hul besit, die monopolie op die druk van hierdie invoegsels geskep en verkry het.

Koerante in privaatbesit is doodgedruk deur die verlies aan gedrukte advertensie deur nasionalevlak adverteerders en was geforseer om hierdie invoegsels teen ʼn belaglike lae prys in kompetisie met die Caxton koerante te versprei, dit nadat Caxton uitstekende winste geskep het uit die druk van al hierdie pamflette.

Met die koms van die internet, en veral Facebook, het die speelvak totaal verander. Besighede beskou hulself as uitgewers en probeer hul produkte self op Facebook bemark – min kry dit reg.

Dit het dan ook daartoe gelei dat Kwêvoël die drukkery verloor het en sedert 2016 as digitale publikasie sy vlerke op die internet sprei.

Baie dankie aan al die adverteerders wat steeds Kwêvoël ondersteun en sigbare resultate weekliks kan sien.

Ek het nog altyd gesê dat Kwêvoël die mense aan die lees gekry het na die talle teleurstellings met die SABC se Afrikaanse kanale, al moes ek meer foto’s met talle gesigte op per uitgawe plaas as wat jy gesigte elke week op jou eie Facebook bladsy sien.

Indien jy hierdie lees, ondersteun hierdie pos in Kwêvoël met ʼn ‘Like’ – onse mense is mos skaam om ons eie te deel (‘Like’) – Julle wat gereeld vir my sê julle mis die koerant – Doen jou deel met ʼn ‘Like’ vir Kwêvoël – dan voel ek dalk beter na 40 jaar se insette.

*Eerste mashoof was groen en is later met ʼn rooi mashoof vervang.

Kommentaar (so tong in die kies) deur:

Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (Sedert 1983)