Onteiening sonder vergoeding – gevaar van voogdyskap kan SA vernietig
Die voogdyskap oor onteinde eiendom deur die beoogde wet op die Onteiening van Eiendom Sonder Vergoeding hou ʼn groter bedreiging in as wat algemeen gereken word. Die meese mense het gedink dat hierdie risiko van die tafel gevee is toe die skraping van Seksie 25 van die Wysigingswet in Desember 2021 nie deurgevoer kon word nie.
Die enigste rede hiervoor was dat die ANC nie daarin kon slaag om ʼn tweederde meerderheid te behaal om die verandering in die Menseregtewet deur te voer nie.
Die bepaling oor voogdyskap van eiendom is egter steeds vervat in die Onteieningwet wat gewone wetgewing is en slegs ʼn 51% meerderheid vereis om goed te keur.
Suid-Afrikaanse handelsbanke speel ʼn baie groter rol en is in ʼn posisie om baie te verloor indien hierdie onteieningswetgewing toegepas word.
Indien ʼn munisipaliteit op grond van die wet eienaarskap op huise, besighede en plase in terme van onteiening sou neem moet daar in werklikheid hiervoor betaal word – alhoewel die wet toelaat dat hierdie vergoeding ‘nul’ kan wees.
In teenstelling, sou ʼn munisipaliteit voogdyskap (custodianship) van huise, besighede en plase neem, hoef hulle geen vergoeding te betaal nie aangesien voogdyskap nie aan die wet se vereiste van ‘onteiening’ voldoen nie.
Sou die staat die reg op voogdyskap gebruik gaan dit ʼn vernietigende invloed op die land se sowat 11,5 miljoen huiseienaars, waarvan sowat 9,6 miljoen swart is, hê. Al hierdie individuele huiseienaars se reg op besit van die eiendom kan vervang word met 25-jaar ‘landgebruik-lisensies’ wat toegeken en gekanselleer kan word soos die ontplooide ANC kaders mag goeddink.
Die voogdyskap-aanwinste sal nie vergoed word nie terwyl eienaars wat verbande op hulle eiendom het steeds verantwoordelik gehou sal word vir die volle vereffening van hierdie verbande.
Indien die staat sover gaan om voogdyskap op alle privaat eiendom te neem, sal die permanente verbeterings tot die eiendom ook betrokke wees. Buiten die 11,5 miljoen huise is daar ook talle inkopiesentrum (Malls), kantoorgeboue, fabrieke, prosesseringsaanlegte en dies meer. Hierdie ‘landgebruiklisensie’ sal beslis ook vereis dat huur aan die staat betaal moet word.
Verbeterings aan eiendom is nie ʼn natuurlike hulpbron nie, ook is dit nie gelykstaande aan onaangetaste ondergrondse minerale hulpbronne soos waarop die staat reeds voogdyskap in terme van die Mineral een Petrolium Bronne Ontwikkelingswet (MPRDA) van 2002 geneem het nie.
Sodra die Onteieningswetgewing deel uitmaak van die Landswette is daar min wat die ANC gaan verhoed om alle landbougrond ook onder voogdyskap van die staat te plaas nie, (soos die 2014 wet voorstel).
Dit gaan ook steun bied aan die sosialistiese doelstellings van die National Democratic Revolution (NDR) tot wie die ANC en hul kommunistiese bondgenote hulself verbind het.
President Cyril Ramaphosa het dit dan ook omonwonde tydens die ANC se 110de verjaarsdagvieringe op 8 Januarie gestel dat die Wet op die Onteiening van Eiendom Sonder Vergoeding steeds die ANC se uiteindelike doel is.
Banke in Krisis
Die omvang van die skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie wat uit die toepassing van die wet op Onteiening van Eiendom Sonder Vergoeding gaan spruit is fenominaal en die banke gaan hulself in ʼn groot krisis bevind sou dit deurgevoer word.
Die Bankiers Assosiasie van Suid-Afrika baseer die waarde van landgebaseerde eiendom op sowat R7 triljoen (R7,000,000,000,000 – sewe miljoen miljoen rand). As daar slegs ʼn klein hoeveelheid van hierdie eiendom onderhewig aan die Onteieningswet gaan wees, gaan die waarde van eiendom drasties val, gewoonlik tot onder die waarde van die uitstaande verbandbedrag op die eiendom.
Hierdie situasie het hom reeds in Zimbabwe afgespeel waar dit gewys het dat goed beskermde eiendomsreg noodsaaklik is vir ekonomiese groei en dat dit as die ekonomie se anker dien. Sodra hierdie regte aangetas of verwyder word, word die ekonomie aan ineenstroting teen ʼn verbasende- en vernietigende tempo blootgestel.
Handelsbanke het reeds tot hierdie ideaal van die ANC bygedra deur die devaluering van besigheidseiendom in privaatbesit.
Hier kan maar net verwys word na die waardevermindering van sakegeboue in ʼn dorpie soos Thabazimbi wat meegebring is deur banke se houding om nie realistiese verbande aan eienaars en potensiële eienaars van sakegeboue toe te staan nie. Hulle verkies eerder ʼn besigheidslening, terugbetaalbaar oor ʼn maksimum van 5 jaar teen die hoogste risiko-rentekoers moontlik. Dit is die vinnigste manier om ʼn besigheid te dwing om sy deure te sluit met opgehoopte rentes wat nooit verhaal kan word nie.
Die verskoning wat deur banke gebruik word is dat hulle slegs verbande toeken wat gebaseer is op huidige markwaarde. Hierdie swak markwaarde is ʼn direkte uitvloeisel van die swak ondersteuning wat die Middel- en Kleinsakesektor van finansiële instellings die afgelope twee dekades geniet.
Of anders gestel – Die Suid-Afrikaanse finansiële instansies het geen vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie en probeer intussen om hul skade so ver moontlik te beperk. Intusen verloor hulle baie meer met eiendomme waarop beslag gelê word wat nie eens ʼn kwart van die markwaarde wat dit 20 jaar gelede gehad het op ʼn veiling sal haal nie.
Eintlik was hierdie houding reeds vir etlike dekades die norm, dit het net die laaste sowat 20 jaar baie moeiliker geraak om kapitaal vir verdere ontwikkeling en uitbreiding te bekom deur geld te leen op bestaande verbande op sakegeboue.
Het dit dalk iets te doen met die ANC se beroep op die banke om huislenings aan mense wat nie huise het toe te staan nie? Die volk, en veral die werkloses, het huise nodig, nie besigheidsgeboue waar besighede gevestig is en waar daar vir hulle werk geskep kan word nie.
ʼn Houding wat reeds tot die vernietiging van die grootste gedeelte van die land se Middelslag- en Kleinsakeonderneming gelei het waar eenmansake hul deure moes sluit as gevolg van die finansiële druk deur finansieringsinstansies sonder inagneming van die onredelike belasting- en arbeidswetgewing wat reeds deur die ANC regering op hierdie noodsaaklik ekonomiese kern van toepassing gemaak is nie.
Daar word gekerm oor die groot verskil tussen ryk en arm in Suid-Afrika. Die Middelslag- en Kleinsakegemeenskap is in enige ekonomie, in enige land, buiten waar kommunisties en sosialistiese regerings of diktators aan bewind is, die grootste werkskepper van al die takke van die ekonomie en lewer ook die grootste bydrae, saam met alle ander individue wat aan privaat en persoonlike belasting (PAYE) onderworpe is, tot die staatsskatkis.
Die tipiese voorbeeld van die gans wat goue eiers lê wat nek omgedraai word.
Tog gaan banke in Suid-Afrika voort met hul vernietigingswerk onder die eenman- en dergerlike sake-eienaars en dra daarmee by tot die land se reeds onaanvaarbare hoë werkloosheidsyfer en armoede. Alles aanvaarbaar want die massas het huise, nie werk nie, nodig.
Die banke se vryery na die ANC was vanuit die staanspoor duidelik toe selfs logos na bewering aangepas is om simbole met politieke (ANC) waarde te bevat. Alhoewel dit destyds ontken is het nuwe bewerings na vore gekom dat dit inderdaad die geval was.
Is daar enige voorsitter van ʼn handelsbank of lid van hul direksie wat nie onder die super rykes van die land tel nie? Moeilik om te sê wie van dié twee, die regering of die banke, het die ander aan die knaters beet – Intussen lei die land se ekonomie daaronder.
Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (sedert 1983)
Bron:
Daily Friend – The ‘custodianship’ risk in the Expropriation Bill