EditorialFeatured

DA: Universiteit Stellenbosch se Khampepe-verslag tas Afrikaanse student se menseregte aan

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal onmiddellik stappe neem om die Universiteit Stellenbosch (US) se Khampepe-verslag in die hof uit te daag.

Die verslag, wat deur afgetrede regter Sisi Khampepe vrygestel is, is verregaande en maak Afrikaans die sondebok vir enige en alle probleme by die universiteit.

Volgens ʼn media vrystelling deur die DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch, Dr Leon Schreiber LP, het die US verskeie onregte teen Afrikaanse studente gepleeg sedert Wim de Villiers rektor van die instelling geword het.

Hierdie onregte sluit onder meer in dat hulle verbied word om Afrikaans in koshuise en in die openbaar te praat – ‘n oortreding wat die DA na die Menseregtekommissie verwys het.

Maar die Khampepe-verslag eskaleer die aanval op Afrikaans tot ongekende vlakke deur die sewe miljoen sprekers van Afrikaans – die mees diverse taal in Suid-Afrika – effektief te blameer vir enige en alle rassespanning en voorvalle soos die urineringskandaal.

Dit is duidelik dat hierdie bevinding ontwerp is om aan De Villiers die verskoning te bied wat hy lank gesoek het om Afrikaans as akademiese taal heeltemal uit te skakel.

Om Afrikaans met rassisme gelyk te stel is ’n walglike belediging vir die hele taalgemeenskap in Suid-Afrika.

Dit is ook heeltemal irrasioneel, gebaseer op anekdotiese en totaal nie-verteenwoordigende bewyse, en in stryd met alles waarvoor ons grondwetlike demokrasie staan.

“Daarom het die DA ons prokureurs dadelik opdrag gegee om die US se Khampepe-verslag in die hof uit te daag. As die voorste politieke kampvegter vir taalregte in die Parlement, sal die DA geen koste ontsien nie om die waardigheid van ons inheemse tale – insluitend Afrikaans – te beskerm,” sê Schreiber.