AfriForum Thabazimbi-tak skenk vrugtebome aan HFM
AfriForum se Thabazimbi-tak het ’n groot verskil in hulle onmiddellike omgewing gemaak toe hulle in samewerking met Hoërskool Frikkie Meyer vrugtebome op die skoolterrein aangeplant het.
Die bome het bestaan uit agt verskillende sitrusbome en twee lietsjiebome wat deur AfriForum Thabazimbi-tak geskenk is.
Hoërskool Frikkie Meyer het saamgespan en tien gate op die skoolterrein gegrawe waar die bome toe tydens ʼn boomplantseremonie op 2 November 2022 geplant is.
Volgens die distrikskoördineerder vir Soutpansberg, Cee-J van der Walt, word die bome in die skool se sorg gelaat om hoop en ’n tasbare verskil in die Thabazimbi-omgewing te maak. Nie net leer die leerlinge van die natuur nie maar, ook om vir die toekoms te beplan.
“Die projek is geloods en suksesvol toegepas om aan die gemeenskap op ’n volhoubare wyse vrugte te verskaf. Die vrugte wat hierdie bome lewer word geoes en in die plaaslike gemeenskap se voedingskema teruggeplaas sodat almal toegang tot gesonde kos het.”
“Die opwinding en vreugde was tasbaar op die skoolterrein. ’n Mens weet sommer al klaar dat die vrugte ’n groot en langwerkende positiewe effek op Thabazimbi se mense gaan hê,” sê Cee-J van der Walt.