Ou inwoner en sakeman oorlede
ʼn Inwoner van Thabazimbi sedert 1979, Danie Janse van Vuuren (84), IsWoensdag 19 Oktober oorlede na ʼn kort siekbed.
Danie het in die vroeë oggendure van 27 Augustus geval en ʼn heupfraktuur opgedoen. Hy is toe in Mediclinic in Thabazimbi vir behandeling opgeneem.
Aangesien die fraktuur ʼn operasie vereis het, is hy na die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar ʼn pen in die heup ingeplant is.
Die operasie was ʼn sukses maar weens komplikasies met sy longe is hy vir ʼn verdere twee weke daarna in die intensiewe eenheid versorg. Hierna het vir nog twee weke by die Faerie Glen Kliniek deurgebring waar hy fisioterapeutiese behandeling ontvang het om hom te ondersteun om weer te loop.
Danie is vanaf Faerie Glen weer na Mediclinic Thabazimbi oorgeplaas. Sy toestand het mettertyd vererger en hy is die oggend van 19 Oktober oorlede.
Danie en sy eggenote, Marie, het gedurende 1968 ʼn stukkie grond in die Kransberge aangeskaf en gedurende 1979 besluit om na Thabazimbi te verhuis en met hulle gesin hul hier te vestig. Hier het hulle vir hulself ʼn huis op die eiendom gebou.
Die gesin se vier kinders, Dawid, Henning, Danie en Annelise het almal hul skoolloopbane op Thabazimbi voltooi.
Danie was veral bekend vir sy ondernemingsgees om nuwe dinge aan te pak. So was hy een van die eerste entrepreneurs wat TV stelle op die dorp en omgewing herstel het waar hy vanuit die huis en die destydse Vliegpoort Spar (by die huidige Junction sakesentrum) gewerk het.
Danie het etlike jare gelede begin om Solar dienste in Thabazimbi te lewer. Die besigheid het gegroei en sy seun Danie en skoonseun Gert Visser is ook hierby betrek. Dit het uiteindelik gelei tot die ontstaan van Thaba Solar.
Sowat agt jaar gelede het Danie besluit om rustig te raak en het hy homself uit die besigheid onttrek.
Die familie bedank hiermee die wonderlike verpleegspersoneel by Mediclinic en in besonder dr Chris van Zyl asook dr Mart-Marie wat hom so mooi tot die einde versorg en bygestaan het.
Die roudiens is Donderdag 27 Oktober by Komma Nader gastehuis gehou.