Pioenier-boorling van die Thabazimbi bosveld oorlede
ʼn Boorling van die Thabazimbi bosveld en bekende boer in die Sentrum distrik, Oom Jan Lamprecht (97) van die plaas Somerset-Noord, is Sondag 16 Oktober oorlede nadat sy toestand geleidelik verswak het.
Oom Jan het nieteenstaande sy hoë ouderdom steeds ʼn aktiewe belangstelling in die boerdery en in die lewe op die plaas gehad.
Ongeveer drie maande gelede het hy ʼn hartaanval gehad en hy is in die hospitaal opgeneem. Hy het heeltemal goed van die hartaanval herstel en was weer terug op die plaas. ʼn Paar weke gelede het hy weer ʼn terugslag gehad toe hy vermoedelik weer ʼn hartaanval gehad het.
Tog het hy herstel en volgens sy seun Pieter, het hulle hom selfs in die rystoel afgestoot na die Matlabasrivier wat vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd hierdie tyd van die jaar gevloei het.
Sy toestand het egter vining agteruit gegaan tot met sy afsterwe op 16 Oktober.
Oom Jan is op 26 September 1925 op die plaas Welgevonden, ook in die Sentrum distrik, gebore en het daar groot geword totdat die familie drie jaar later na Somerset-Noord oorgeskuif het.
Sy skoolloppbaan het hy in die plaasskooltjie op Somerset-Noord begin en op aanbeveling van die skoolinspekteur het hy op Brits verder skool gegaan. Sy laaste jaar op laerskool was hy op Laerskool Groenvlei by Sentrum.
Hy was ʼn skrander leerling en is op 11-jarige ouderdom as koshuisleerling op Rustenburg by die hoërskool ingeskryf. Na sy hoërskoolloopbaan was hy een van die gelukkige boerseuns om in ʼn wetenskaplike rigting te kon studeer en hy het sy B.Sc. graad met wiskunde, toegepaste wiskunde en fisika by Tukkies verwerf.
Gedurende die tyd na Universiteit was hy ondermeer onderwyser op Soutpan, deel van ʼn span wat navorsingswerk oor bilharzia gedoen het en ook betrokke by die department van gesondheid onder Advokaat JG Strydom.
Toe oom Jan se pa nie verder met die boerdery kon voortgaan nie, is oom Jan op 40-jarige ouderdom teruggeroep om die boerdery oor te neem of die plaas word verkoop. Dit was tydens die 1960’s droogte en glad nie die ideale tyd om te begin boer nie.
Toe dinge vir hom sleg begin lyk het, is hy geleentheid gebied om by Karoo Lewende Hawe te werk. Hier het hy goeie opgang in die bosveld gemaak en kon hy later met beeste van sy eie begin spekuleer sodanig dat hy voltyds kon terugkeer plaas toe.
Oom Jan word oorleef deur sy eggenote Cathy, drie seuns met eggenotes, waarvan die jongste seun, Pieter, die suksevolle boerdery op Somerset Noord bedryf. Verder is daar een kleinseun en vier kleindogters.
ʼn Gedenkdiens is Saterdag 22 Oktober vanuit die NG Kerk Limpopo gemeente gehou. Die teraardbestelling was op die familieplaas Somerset-Noord.
Oom Jan is gebore uit ʼn geslag waar die gevolge van die Anglo-Boereoorlog nog vlak in die geheue gelê het. As kind het hy die 1933 depressie beleef en is as jongman ook nog gekonfronteer met die Tweede Wêreldoorlog en die Afrikaner se stryd om nasiebou.
Om meer uit te wei oor die koms van oom Jan se grootouers na hierdie verre uithoek van die bosveld is daar niemand beter as sy jongste, Pieter Lamprecht, om die storie te vertel nie.
“Oupa Johannes Jurgens Fourie, sy skoonseun Pieter Lamprecht en die se broer John Lamprecht, en Dirk Beukes koop Somerset-Noord in 1925.
Oupa Jan is op die plaas Welgevonden, wat ook teen die Matlabasrivier lê, gebore. Oupa Fourie, sy oudste seuns en Oupa Pieter het viervertrek riethuise op Somerset-Noord begin bou. Riete is uit die Matlabasrivier gebruik. Oupa Fourie, met ʼn wa en osse en Oupa Pieter Lamprecht met ʼn wa en donkies, het hulle goedjies begin trek vanaf Welgevonden na Somerset-Noord toe Oupa Jan drie jaar oud was.
Oupa Fourie se kinders was Oom Naas, Oom Flip, Oom Giel, Oom Tinkaan, Oom Job, Oom Hans, Oom Gert, Tant Dora en Ouma Mary, Oupa Jan se ma.
Oupa Fourie bou toe ʼn skooltjie op Somerset-Noord waar hulle en van die bure se kinders skoolgaan. Hulle was net oor die 40 kinders in een klas. Mnr Ferreira was die enigste onderwyser.
Oupa Jan is van graad een oorgeplaas na standerd 1 en daarna weer na std 3. Die skole inspekteur het aanbeveel dat Oupa Jan na ʼn “groot skool” gestuur word. Oupa Jan en sy oom Naas word Brits toe gestuur waar hulle vir twee jaar by oupa Jan se tannie en haar man (Piet Mol – die Stasiemeester) loseer.
Daarna is hulle na Groenvlei Laerskool op Sentrum waar hy die laaste laerskooljaar skoolgegaan het.
Oupa Jan is op11-jarige ouderdom hoërskool toe in Rustenburg. Hy is op Thabazimbi op die trein gesit en het een keer ‘n kwartaal huistoe gekom. Daar het hy vir die eerste rugbyspan gespeel.
Hy het daarna op Tukkies gaan swot en behaal sy B.Sc. graad in wiskunde, toegepaste wiskunde en fisika. Gedurende hierdie tyd was hy ook deel van Tukkies se stoeispan.
As onderwyser het oupa Jan op Soutpan vir ‘n hele paar jaar skoolgehou. Daar het ‘n navorsingspan hom genader wat werk op balharzia doen in die laeveld. Dr. Pitchford geneesheer, dr. Frank wat ʼn varswater bioloog was en dr. Shaeffer van Duitsland. Hy het dit baie geniet en het altyd met baie passie daaroor gesels.
Advokaat Strydom was ʼn goeie vriend, en toe hy as eerste minister verkies word, het hy Oupa Jan genader om onder Verwoerd by die nuwe Departement van natuursake te kom werk. Hy moes toe eers buitemuurs geskiedenis, volkekunde en Afrikatale studeer.
Hy het teruggetrek Pretoria toe en voltyds vir die regering gewerk. Hy het op daardie stadium onder dr. Williams, die sekretaris van gesondheid gewerk. Toe hy eksamen moet skryf wou hulle hom nie studie verlof gee nie.
Dieselfde aand wat hy studieverlof geweier is, kontak sy pa (Oupa Pieter) hom. Hy het rumatiekkoors gekry en hy was in ‘n rolstoel en kon glad nie meer loop nie. Oupa Jan se twee broers Piet en Poem wou nie op daardie stadium plaas toe kom om te boer nie. As oupa Jan nie dadelik plaas toe sou kom nie, sou hy die plaas verkoop.
Oupa Jan het dit as ‘n teken gesien dat alles gelyk gebeur en dadelik bedank. Hy was 40 jaar oud.
Toe hy hier kom moes hy aangaan met die grondboon boerdery wat sy pa begin het. Hy het geld geleen vir brandstof, kunsmis ensomeer en het toe ‘n misoes gehad.
Hy het van sy beeste veiling toe gevat om te verkoop en loop toe daar een van sy vriende, Fanie van Jaarsveld wat die hoof is van Karoo lewende hawe, raak.
Fanie vra toe vir oupa Jan om in hierdie omgewing vir hulle besigheid te kry. Hy bied hom ʼn basiese salaris en ʼn paar voordele soos ‘n voertuig en brandstof aan. Hy het die geleentheid met ope arms verwelkom.
Oupa Jan het die Maandag met sy Volla begin werk. Hy het baie goed gedoen met sy bemarking. In hierdie tyd is dit die ‘60er jare se droogte. By Inkerman bly toe Oom Ernest Meiring, met 9000 morge aanmekaar. Oupa onderhandel toe, namens Karoo, met Oom Ernest om die grond te huur en sy beeste te koop. Oupa doen toe goed en huur meer grond in die omgewing en koop nog beeste aan. Teen die einde van die droogte het hulle meer as 1400 beeste gehad.
Karoo het dieselfde beginsel op Volksrust toegepas waar hulle 20 plase en oor die 2000 beeste gehad het. Toe Walley Ferreira oorlede is het hulle Oupa Jan Volksrust toe oorgeplaas. Hy was vir ʼn jaar daar. Toe een van Karoo se top manne met al die dokumentasie wat hy kon kry na Vleissentraal gaan en vir hulle werk, was die verlies aan Karoo se kant enorm en ʼn proksiegeveg het ontstaan.
Oupa Jan is oorgeplaas Kaap toe. Toe hy daar kom was die dokumentasie wat beskikbaar was verouderd en skaars. Hy was ʼn week daar toe Peter Cross, wat sy buurman hier op Somerset-Noord is, hom skakel. Peter sê toe dat sy pa, wat in die Paarl bly, vir Oupa Jan wil sien. Hy het van alles tehore gekom en wou Oupa Jan help. Hy het een van die oudste besighede in die Paarl gehad en het almal geken. So het hy saam met Oupa Jan gery en hulle het proksies van die boere gekry wat niemand anders kon kry nie.
Oupa het in die Kaap weer Karoo Lewende Hawe gevestig. Oupa het teen daardie tyd die plaas klaar betaal en kon toe bedank en terugkom plaas toe, na sy beeste toe.
Hy en sy eerste vrou neem haar suster se seuntjie aan, sy oudste seun André French. Hy en Oupa Jan deel ʼn liefde vir sport en veral stoei. André wen die SA Liggaamsboukompetisie en verwerf op 16-jarige ouderdom Springbokkleure in Judo, Stoei (verskeie style) en Schwingen. Hy is reeds vir 27 jaar die hoof van Springs Boys High.
Oupa Jan is met Ouma Cathy getroud toe hy 48 was. Sy het ‘n seuntjie Gerrie gehad, wat hy as sy eie aangeneem het. Gerrie was Kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisie, maar met die liefde vir die plaas wat Oupa Jan by hom gekweek het, het hy hom op die plaas Overbeetjiespoort in Lephalale gevestig en ʼn suksesvolle jagonderneming begin.”
Oupa Jan het nooit gedink hy gaan nog kinders hê nie, maar sy jongste seun Pieter, is gebore toe hy 50 was.
Pieter boer nou op Somerset-Noord.