Sinnelose moord op boer skok plaasgemeenskap
Die sinnelose moord op Marthinus Richter (68) in die Derdepoort distrik het skokgolwe deur die distrik en boeregemeenskap gestuur.
Die gewelddadige en vermoedelik voorafbeplande plaasaanval het sy aanloop klaarblyklik reeds Maandagaand 5 September gehad toe die booswigte die plaas omstreeks 20:00 betree het.
Marthinus en sy vrou, Elsa, is ’n bekende boere-egpaar wat reeds etlike jare op die plaas Maricosdraai op die Botswanagrens naby Derdepoort boer.
Die booswigte het Marthinus ingewag toe hy na buite geloop het om ’n pomp te stop. Hy is bygedam en aangerand en het aan sy wonde beswyk.
Onwetend van die aanval op haar man, is Elsa Richter in die plaashuis oorval en erg aangerand. Sy het ondermeer ernstige brandwonde opgedoen wat, volgens die polisieverklaring, met ’n onbekende voorwerp toegedien is.
Elsa is ’n ent van die huis af in die veld vasgebind en aangesê om daar te bly, anders gaan hulle haar man doodmaak.
Daarna het die booswigte die huis gestroop en verskeie waardevolle items in die egpaar se Volkswagen Amarok-bakkie gelaai en daarmee vanaf die toneel op die vlug geslaan.
Nadat Elsa losgekom en huis toe geloop het, het sy uitgevind dat die selfone gesteel is. Die radio was buite werking maar sy het daarin geslaag om dit weer aan die gang te kry. Sy kon toe omstreeks 01:00 ’n noodoproep op die radio deurkry. Die Matlabas Protospanlede is geaktiveer en het toe bystand gaan verleen.
Sy is in die hospitaal vir behandeling opgeneem. Volgens Pieter Lamprecht van die Matlabas Plaaswag is sy stabiel en onder die haglike omstandighede gaan dit relatief goed met haar. Sy is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Volgens die SAPD media verklaring wat deur die Provinsiale Polisiekommissaris vir Limpopo, Luitenant-generaal Thembi Hadebe uitgereik is, het die flink optrede van die polisie in Bela Bela daartoe gelei dat die vermeende gesteelde voertuig geïdentifiseer is waar dit Dinsdagoggend vroeg in Potgieterstraat in Bela Bela gery het.
Die polisie het die bestuurder van die voertuig beveel om af te trek en stil te hou. Die verdagtes het, volgens die verklaring, na bewering op die polisie begin skiet waarna ’n oor-en-weer-skietery van stapel gestuur is.
Een van die verdagtes is doodgeskiet terwyl die tweede verdagte beseer is en in hegtenis geneem is. Die gesteelde voertuig, vyf vuurwapens, verskeie rondtes ammunisie, twee plasma televisiestelle, twee selfone en gereedskap is teruggevind.
Luidens die verklaring deur Luitenant-generaal Hadebe is beide verdagtes, wat glo op die plaas waar die aanval plaasgevind het werksaam was, geïdentifiseer. Dit het later aan die lig gekom dat net een van die verdagtes vantevore op die plaas werksaam was en die ander een onbekend is.
Die polisieondersoek duur voort vir die moontlikheid dat nog verdagtes ook by die voorval betrokke kon wees.
Indien enige persoon oor inligting beskik wat die polisie in hul ondersoek kan help, word u gevra om Luitenant-kolonel Richard Boshomane by (079) 894-5501, sersant Masilo Makola by (071) 601-5174, die misdaadstop nommer 0860010111 of die naaste polisiekantoor te kontak.
Indien daar persone is wat by die Matlabas Plaaswag betrokke wil raak is u welkom om Pieter Lamprecht by (082) 372-0598 of Jackie by (078) 627-7816 te skakel.