EditorialFeatured

Kommentaar: Weghol-Vragmotors in Thabazimbi kort dringend aandag van owerhede

Geluk was aan die kant van motoriste om nie getref te word toe ’n swaarvoertuig met ’n sleepwa vol skrootmetaal gelaai verlede week nie betyds by die T-aansluiting van die Ellisras-pad met Warmbadweg in Thabazimbi tot stilstand kon kom nie. Die vragmotor het met volle vaart oor die stopstraat gevlieg en homself teen die spoorlyn ingeploeg. (Sien vroeër plasing in Kwêvoël)

Hierdie ongeluk, wat op 12 April 2022 gebeur het, is die soveelste ongeluk by die spesifieke aansluiting waar swaarvoertuie nie betyds kon stop nie aangesien hulle remme ‘skielik’ sou ingegee het.

Ongelukkig blyk dit nie of terugvoering gegee word van ondersoeke, sou daar enige wees, wat gedoen word om die oorsaak te bepaal hoekom die remme onklaar geraak het, na SANRAL of selfs die Munisipale Verkeersowerheid of aan enige ander gesagsliggaam wat moet omsien na die veiligheid van ander padgebruikers nie. Waar is die skadevergoeding wat mens sou verwag deur die eienaars van voertuie wat skade aan munisipale eiendom, of in hierdie geval PRASA of wie ook al by die Department van vervoer of instansie vir die instandhouding van spoorlyne verantwoordelik is.

Die volgende oggend nadat die ongeluk plaasgevind het, het die publiek op die ongelukstoneel toegesak en begin om van die skroot op die vraghouer af te gooi en te gaan verkoop. Blykbaar is daar selfs van die staalonderdele van die ongeluksvoertuig weggedra om by ’n skroothandelaar te gaan verkwansel.

Hierdie is nie ’n eenvoudige verslaggewing van nog ’n ongeluk by hierdie spesifieke kruising waarby swaarvoertuie betrokke is nie, maar ’n oorsig van vorige soortgelyke ongelukke waaroor Kwêvoël verslag gedoen het en die skynbare redes wat aanleiding hiertoe kon gegee het.

In ’n berig wat op 8 Januarie 2021 in Kwêvoël gepubliseer is, is verslag gedoen van hoe ’n vragmotor in stukke opgebreek het nadat dit teen volle vaart die treinspoor by die T-aansluiting van die Lephalale-pad met Warmbadweg getref het. Die slag van die ongeluk was so groot dat een van die twee vraghouers wat dit gesleep het asook die trekvoertuig se kajuit in Stasiestraat anderkant die spoor te lande gekom het.

Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat ’n vragwa met skrootyster sowat ’n goeie 40 ton of meer kan weeg. Dink aan die inpak as dit eenvoudig alles in sy pad gaan wegvee as daar voertuie in die aansluiting is, by die stopteken of besig is om die kruising in Warmbadweg oor te steek. ’n Ramp wat jy nie wil hê moet gebeur nie en veel groter as wat die plaaslike munisipaliteit, selfs met die hulp van omliggende myne se nooddienste, sal kan hanteer.

Laasgenoemde ongeluk het Maandagoggende 11:30 op Maandag 28 Desember 2020 gebeur en die feit dat daar nie ander voertuie by betrokke was nie kan sekerlik aan die lae voertuigvolumes op die pad tydens die Feestyd toegeskryf word.

Kragkabels van die oorhoofse treinspoor het die wêreld vol gelê en die spoorweg kragpale en kragdrade wat toe beskadig is, is to op datum nog nie herstel nie. Die ongeluk het ook grootskaalse kragonderbrekings in groot dele van die dorp veroorsaak wat lank geneem het om te herstel.

Die beton-palisade omheining wat tydens die vorige paar ongelukke totaal vernietig is, is steeds nie herstel nie.

Die genoemde vragmotor het blykbaar, net soos die twee soortgelyke ongelukke wat binne die bestek van een week, van 8 tot 12 April 2019, by hierdie aansluiting plaasgevind het, ook Natrium-as vanaf Botswana vervoer. Natrium-as word gebruik in die vervaardiging van korrel-chloor wat onder andere in swembaddens gebruik word.

In nog ’n ongeluk die oggend van 2 Augustus 2018 het ’n weghol-vragmotor oor die aansluiting gery en die agterkant van ’n skoolbus getref wat vanaf Amandelbult met leerlinge na Hoërskool Frikkie Meyer op pad was.

Gelukkig is niemand ernstig in hierdie ongeluk beseer nie. Indien die bus ’n paar sekondes later in die aansluiting was, sou dit ’n ramp gewees het.

Na die twee ongelukke wat gedurende 2019 in een week by dieselfde aansluiting plaasgevind het was Kwêvoël in gesprek met mnr. Gerrie Visagie, hoof van Thabazimbi Munisipaliteit se Rampbestuur.

Tydens die gesprek het hy gewys op SANRAL se reaksie dat die ongelukke binne die jurisdiksie-gebied van die Thabazimbi Munisipaliteit plaasvind. SANRAL se verantwoordelik hou blykbaar op in die omgewing van die ou Padkamp net verby die Alma-afdraai. Dit ongeag die feit dat die ongelukke heel waarskynlik hul aanloop het in die gedeelte van die pad wat binne SANRAL se jurisdiksie val.

Daar word gepraat van sandputte vir weghol-voertuie wat weliswaar ’n moontlike opsie is. Die ongeluk is dat teen die tyd dat die bestuurders besef dat hulle in groot nood verkeer daar baie min plekke is vir so ’n noodmaatreël.

Ek ken die roete persoonlik goed. Tydens my studentejare gedurende die sewentiger jare as lugvaartkundige tegnoloog by Atlas Vliegtuigkorporasie het ek gedurende my vakansietye fynsteenkool vir my broer se steenmakery in Thabazimbi vanaf Ellisras aangery.

Dit was met ’n ou MAN 20-ton vragmotor met ’n rathefboom wat oor sowat ses ratte in die lae-reeks en dieselfde aantal ratte in die hoë reeks beskik het. Af en agtertoe het jou eerste in laer reeks gegee en vorentoe, eerste in die hoë reeks. Een stel boontoe agtertoe was tweede in die lae reeks en vorentoe tweede in die hoë reeks.  So het jy deurgewerk tot heel bo. Indien jy vergeet het war jy was, het jy doodeenvoudig van die pad afgetrek en weer voor begin.

Die afdraande by Thaba Nkwe was,voordat hy sy naam gekry het, toe reeds ’n uitdaging. Heel bo het ek stilgehou, die vragmotor in sy laagste rat gesit en heel veilig onder uitgekom, na ’n hoër rat oorgeskakel en die res van die geleidelike afdraande tot by die T-aansluiting aangevat.

Kom ons neem die hele roete in aanmerking en hierdie is maar net ’n moontlike scenario van my eie ondervinding en wat moontlik kon gebeur indien die remme skielik sou ingegee het.
Heel bo – by die aanvang van die steil afdraande by Thaba Nkwe is die bestuurders steed gerus. Met die effense opdraande wat die afdraande voorafgaan kon hy gemaklik met een van die middelreeks ratte uitkom, reg om die afdraande aan te vat. Nieteenstaande die waarskuwing bo vir swaar voertuie om in ’n laer rat hierdie afdraande aan te pak, skakel hulle nie noodwendig terug na dieselfde lae rat waarmee hulle die opdraande aangevat het nie. In die meeste gevalle het hulle die opdraande sonder vrag aangepak en vergeet dat hulle nou ’n addisionele 40 ton of meer agter hulle trekvoertuig gehaak het wat nou teen hierdie afdraande gaan help stoot, dus sou ’n heelwat laer rat ’n beter opsie wees.

Bestuurders van luukse voertuie soos Lamborghini’s en top Mercedes en BMW modelle verg gevorderde bestuurders-opleiding om hierdie voertuie doeltreffend te hanteer. Netso het bestuurders van ekstra-swaar voertuie ook opleiding nodig om hulle voertuie onder alle omstandighede veilig te hanteer. Ondergaan alle swaarvoertuig lisensiehouers wel hierdie gevorderde opleiding? Wie weet – ek glo nie die wet vereis so iets nie.

Kyk mens maar net na die kompleksiteit van die ekstra-swaarvoertuig se remstelsel besef jou gou dat jy nie sommer enigeen met ’n ekstra-swaarvoertuiglisensie agter die stuur van so ’n voertuig kan toelaat nie.

By ligte voertuie is ’n gewone hidrouliese remstelsel, wat in die meeste gevalle met ’n ‘booster’ gehelp word die norm en heeltemal voldoende. Gevorderde ABS stelsels dra by tot ’n hoogs doeltreffende stelsel.

By ekstra swaarvoertuie is ’n gewone hidrouliese stelsel nie meer so doeltreffend nie en word ’n stelsel wat deur ’n lugdruk geaktiveer word eerder gebruik om die sterk vere wat die remskoene teen die wielvellings moet vasdruk te aktiveer. Hierdie stelsel bestaan uit ’n verskeidenheid van komponente soos ’n lugkompressor wat deur die vragmotor se enjin aangedryf word, ’n lugdruk tenk en verskeie kleppe om die stelsel se verskillende komponente te aktiveer.

Die bestuurder het boonop nog die keuse van die sogenaamde kompressie-remme waar die enjin se kompressie in ’n omgekeerde werking aangewend word om die voertuig se spoed te beheer sonder om die remme te gebruik. Dit kan egter nie aangewend word om die voertuig tot stilstand te bring nie en verg opleiding van vragmotorbestuurders vir die effektiewe gebruik daarvan.

Kompressieremme

Sodra so ’n voertuig se handrem geaktiveer word, sorg die lugdruk in die reservoir dat die remskoene teen die wielvellings inskop en die voertuig nie kan beweeg nie. Netso, sodra die handrem gedeaktiveer word, word die lug vrygelaat en ontkoppel die remskoen van die wielvellings. Die luglating kan duidelik gehoor word sodra ’n swaarvoertuig wegtrek.

Werking van lugdrukstelsels

Lugdruk remstelsel Video 1

Lugdruk remstelsel Video 2

Dit is dus duidelik dat die lugdruk in die reservoir ’n belangrike funksie in die voertuig se remstelsel speel. Hierdie drukverlies kan alleenlik deur die voertuig se enjin, wat die lugkompressor aandryf, aangevul word.

In ’n hoër rat is die enjin se rewolusies laer wat beteken dat die kompressor teen laer werkingsvermoë aangewend word. ’n Laer rat, teen hoër enjinrewolusies, sorg vir beter lugdrukopwekking en dus beter remvermoë sou die remme aangewend word.

Met die vragmotor wat die kruin van die afdraande gemaklik bereik word, word daar nie noodwendig na die toepaslike laer rat afgerat nie en word daar eerder op die gewone remme staatgemaak. Die laer enjin rewolusies kan onvoldoende wees om die reservoir ten volle te vul – die remme doen steeds hulle werk maar gebruik meer lug uit die lugreservoir as wat aangevul word. Die gevolg kan wees dat daar nie genoeg lug in die reservoir is as wat noodsaaklik is om die voertuig ten volle tot stilstand te bring nie, sou dit vereis word.

Die probleem is net dat die afdraande nie eindig waar dit nie meer so steil is nie – dit hou nog vir etlike kilometers aan tot by die T-aansluiting van die Ellisras-pad en Warmbadweg teen die treinspoor. Tot by die draai by die ou Padkamp is die voertuig nog redelik onder beheer, dit is gewoonlik eers op die pylvak na die T-aansluiting dat die bestuurders besef dat hulle geen beheer meer oor hierdie wegholvoertuig het nie. Die rem word getrap dat die rempedaal feitlik deur die voerplaat gaan, maar daar is geen remme nie – Die remme het onklaar geraak! Op hierdie stadium laat die padreserwes geen ruimte meer toe vir sandputte waar ’n wegholvragmotor gevang kan word nie.

Hoe om steil afdraandes veilig aan te pak

Die voertuig beweeg ook te vinnig om na ’n laer rat toe oor te skakel, wat die bestuurder reeds moes gedoen het voordat hy die afdraande aangevat het.

Met meer as veertig ton wat op die aansluiting aanstorm, staan geen voertuig en sy insittendes ’n kans op oorlewing indien hulle getref word nie.

Dink maar net aan die gevolge indien ’n bus volk insittendes getref word. Dit sal die grootste ramp wees wat die dorp og ooit getref het. Dan gaan dit te laat wees om vinger te wys na SANRAL of wie ook al. Tot dan sal alle swaarverkeer verbied moet word om die roete deur Thabazimbi as hul poort na die res van Afrika te gebruik.

Daar is verskeie opsies wat kan werk en waaruit die munisipaliteit ’n verdienste kan hef. Hierdie opsies word as moontlikhede gestel aangesien daar geen manier is dat fondse vir enige ander opsies beskikbaar is nie. Met die hoë vloei van swaarvoertuie deur die dorp kan die aanstelling van personeel by spesifieke kontrolepunte regverdig word.

Hierdie punte is:
Maak voorsiening vir ’n verpligte stop vir swaarvoertuie voordat die afdraande aangevat word en nog een sodra voordat swaarvoertuie die Alma afdraai onder aan die afdraande bereik. By elke stop moet hulle gemonitor word aangaande lugdruk in die reservoir asook tyd. Skermskote daarvan op hul selfone kan na die beheerkamer onder beheer van die verkeersafdeling gestuur word. Foto’s kan geneem word van voertuie se registrasie wat stop asook die wat dit ignoreer. Beboet eienaars van swaarvoertuie wat nie hierby hou nie en nog meer indien die spesifieke voertuig nie aan die vereistes voldoen nie en ’n erge ongeluk veroorsaak het.

Die sukses van sulke verpligte stopplekke vir swaarvoertuie kan duidelik gesien word in die afname van ongelukke van weghol swaarvoertuie in Potgieterstraat in Pretoria nadat ’n verpligte stop aangebring is voordat swaarvoertuie Potgieterstraat mag aanvat.

Sorg vir ’n sandput net na die Alma afdraai vir voertuie wat nie betyds by die tweede verpligte stilhouplek kon stop nie.

Ompaaie om die swaarvoertuigverkeer om die dorp te neem gaan te veel kapitaal vereis en is beswaarlik ’n korttermyn oplossing vir ’n probleem waarvoor nou ’n antwoord gekry moet word.
Dieselfde geld vir weegbrûe voor en na die dorp om te verseker dat swaarvoertuie nie oorlaai is nie – ’n bydraende faktor vir remme wat teen steil afdraandes ingee.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël