Plaasjapie gasheer vir Jo Black se Traveler Toer
Plaasjapie Restaurant was Saterdag 23 April Gasheer vir Jo Black se Traveler Toer. Dié toer het reeds op 2 April afgeskop met Badplaas se Forever Resort as die eerste stop en het intussen ook by Parys en Bloemfontein in die Vrystaat ’n draai gemaak voordat hulle Thabazimbi besoek het.
Kaartjies was beskikbaar vir POD-gaste wat iets meer wou geniet in ’n gesellige atmosfeer. Die POD’s is verkoop teen R2000 elk en het braaivleis, bykosse en drank ingesluit. ’n Gasbraaier met gas is ook voorsien om die kos op voor te berei.
Hierdie aanbod was baie gewild aangesien dit nie net vir ’n lekker kuier geleentheid gesorg het nie maar kon hulle ook nader kennis maak met Jo Black wat tussen die groepe rondbeweeg het.
Jo Black se vertoning het eers na 19:00 afgeskop met Liam Meredith, ’n opkomende jong kunstenaar wat die gehoor vir ’n uur lank vermaak het. Met sy stem gaan hy beslis nog meer gehoor word.
Teen die tyd dat Jo Black die verhoog bestyg het, was die mense behoorlik warm om te geniet waarna hulle uitgesien het. Hy het hulle beslis waarde gegee en met sy treffers harte oopgemaak.
Op die verhoog saam met Jo Black was Ruan en Estiaan op kitaar en Ryno op tromme. Ruan het ook die verhoog met Liam tydens sy optrede gedeel.
Volgende op die lys van vermaak by Plaasjapie is Touch of Class wat moreaand, Vrydag 29 April daar optree. Hierdie is ’n groep wat reeds as gaskunstenaars vir groter name soos ondermeer Laurika Rauch opgetree het.
Touch of Class is nie net bekend vir Ek en my Meisie nie, maar sal jou verbaas wanneer hulle lostrek met ’n verskeidenheid van ander vertolkings. Moet hulle beslis nie misloop nie.