FeaturedGeneral

Remme raak onklaar by dorp-aansluiting – Vragmotor totaal afgeskryf

Die bestuurder van ’n trok met sy vragwa vol skroot metaal het verlede week versuim om die vragmotor by ‘n stopstraat tot stilstand te bring waarna dit oor die stopstraat geskiet het en teen die spoorlyn opvulling, wat ewewydig met Warmbad loop, ingeploeg het.

Die ongeluk het Dinsdagaand 12 April omstreeks 20:00 om by die T-aansluiting van die Lephalale-pad met Warmbadweg in Thabazimbi gebeur. Die trekeenheid asook die vragwa is totaal afgeskryf.

Die vragwa was te swaar gelaai om teen die wal uit te klim maar het nogtans so ver vorentoe gebeur dat die trekeenheid se enjin bo-op die trajek te lande gekom het.

Die vragmotorbestuurder was blykbaar alleen in die voertuig en nadat noodpersoneel hom vir sy beserings op die toneel behandel het, is hy na die hospitaal afgevoer.

Die beperking op padvervoer wat gedurende Maart ingestel is, het sekerlik ’n rol gespeel dat die vorige ongeluk by dieselfde toneel so lank terug was as 28 Desember 2020. Met laasgenoemde ongeluk was die impak so groot dat die vragmotor se kajuit, behoorlik oor die treinspoor gevlieg het en aan die ander kant van Stasiestraat teen ’n boom langs die pad tot stilstand gekom het.

Gelukkig, net soos met die laaste ongeluk, was daar geen dwarsverkeer in die aansluiting toe die ongeluk gebeur het nie.

Soos in alle vorige ongelukke word die rede vir hierdie ongelukke gegee as die remme wat onklaar sou geraak het.

Die vraag word nou deur die plaaslike noodgroepe gevra is hoekom word daar niks gedoen om ongelukke van hierdie aard te probeer verhoed nie?

Buiten die skade wat elke keer aan die spoorlyn aangerig word bestaan die moontlikheid dat ander voertuie, selfs busse gelaai met passasiers deur so ’n voortsnellende voertuig getref kan word. Alhoewel die nooddienste gereed is vir alle noodgevalle word die vraag gevra of die dorp reg is om so ’n groot ramp by die kruising te hanteer.

’n Skoolbus is op 2 Augustus 2018 wel deur so ’n weghol vragmotor getref. Gelukkig het die ongeluk teen ’n relatief laer snelheid gebeur en het die vragmotor net die agterkant van die bus getref. Die momentum was steeds genoeg om die bus, parallel met die vragmotor, tot teen die spooropvulling te stoot. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie.

Daar was voorheen voorstelle van sandputte, alternatiewe roete vir hierdie voertuie en dies meer geopper. Hoekom kom SANRAL of die plaaslike munisipaliteit nie met planne na vore om ’n rampsituasie te vermy nie?

Gerugte is ook ontvang dat die plaaslike publiek die volgende dag op die ongelukstoneel toegesak het om die skrootyster op die vragwa asook van die wrakstukke by skroothandelaars te gaan verpand.

Foto’s: Internet