Die nostalgie om Anton Goosen steeds ’n ervaring om te beleef
Alhoewel die bewolkte weer en reën wat kort-kort gedreig het om meer as net druppels te gooi het Anton Goosen steeds Vrydagaand 25 Maart ’n vertoning by Plaasjapie Restaurant en Kroeg op Thabazimbi gelewer wat hom die titel van Liedjieboer regverdig.
Op die ouderdom van 75 is daar beslis nie veel ander Suid-Afrikaanse kunstenaars wat soos Anton Goosen steeds die nostalgie van sy komposisies so kan saamvat en steeds dieselfde kan laat klink as toe hy dit destyds gekomponeer het nie, en dan ook om dit lewendig weer te gee voor ‘n gehoor.
Anton Goosen het meer suksesvolle liedjies, waarvan die meeste soortvan in volksbesit is, as enige ander Suid-Afrikaanse kunstenaar geskryf. Hieronder is Boy van die Suburbs, Blommetjie gedenk aan my, Geelperskereën, Pampoene op die Dak, Stellenbosch se Nonnatjie, Silver de Lange, Kruidjie-roer-my-nie en talle meer.
Hy skryf Jantjie vir Sonja Herholdt wat ook Waterblommetjies bekend gemaak het. Vir Carike Keuzenkamp skryf hy ondermeer Byeboerwa en sy Straattroebadoere vir Laurika Rauch, om maar net ’n paar te noem.
Die reën het beslis ’n impak op die gehoor gehad met ’n paar tafels wat bespreek is waarvan die mense net eenvoudig weggebly het. Hulle het beslis ’n vertoning waarvan hulle slegs een geleentheid gehad het om te beleef misgeloop. Die mense wat daar was en die nostalgie van die ou treffers ervaar het, het die vertoning baie geniet.
Die kitaarspeler Illimar Neitz, wat hom op sy toer deur Suid-Afrika ondersteun, word beslis onder die beste in die land gereken. Van die eerste klanke af is ek teruggeroep na die beginjare van Oppikoppie waar ek die generasie van die voorste jong Rock-kitaarspelers soos Anton LeMoore, Amajoeba Joubert en Albert Frost hoor speel het.
Na hul optrede by Plaasjapie het hulle nog by verskeie venues in Pretoria opgetree waarna hulle teruggekeer het na die Wes-Kaap met ’n optrede in Swellendam. Die Boer teater-restaurant in Durbanville ontvang hom op 6 April, op 8 April Zomerlust Restaurant en op hierdie stadium word die toer op 9 April by The Alma Cafe afgesluit. Indien jy in die Kaap is, maak gerus van die geleentheid gebruik om sy vertoning te ondersteun.
Volgende aan die beurt by Plaasjapie is die bekende Afrikaanse duo Double D wat gereeld by Pretoria kroeg-restaurante asook op Harties optree. Hulle besoek Plaasjapie moreaand, Vrydagaand 1 April. Toegang is R50 per persoon.