EntertainmentFeatured

Doringdraadduwwels vier hul mondigwording by KunsteGrot

Drie studente het 21 jaar gelede voortrekkerrokke aangetrek, FAK-liedere begin sing, die Kampustalentfees aan die brand gesing en besluit die verhoog is ‘n lekker plek.

Dis 21 jaar later en die drie, Mari van Jaarsveld, Yolande Srauss en Heleen van Schalkwyk het nog nooit ophou sing nie.

Saterdagaand 6 November het die Doringdraadduwwels hulle mondigwording gevier met ‘n vertoning in die Kunstegrot op Thabazimbi.

Die eerste helfte van hul vertoning was ‘n heerlike, lewendige Jazz-ensemble, wat die gehoor net lus gemaak het vir nog. Daarna is ‘n heildronk ingestel en het hul almal verras met ou – en nuwe treffers uit die FAK.

Hul vertoning was epies, dit het die storie vertel en sommige het dit as outentiek beskryf. Die rede is voor die hand liggend: Vir 21 jaar, soos reeds genoem, kom drie dames bymekaar, gooi ‘n show, trek blink rokke aan, smeer hul lippe rooi (hierdie keer het Juane Olivier gehelp en dit baie professioneel gedoen) en sing hul harte uit.

Dinge gebeur egter nie altyd volgens plan nie en al was hul ten volle voorbereid op beurtkrag wat 9uur sou inskop, het ‘n lekker Bosveld-reënstorm die krag wreed uitgeskop na die eerste helfte. Na 21 jaar van konserthou moet jy ook kan kophou – so skielik as wat die krag uitskop, skop dit in: THE SHOW MUST GO ON – En daar sing hulle toe verder – unplugged, in kerslig, by die klavier.

Bo die gedreun van die reën op die sinkdak, kon mens steeds die harmonieë van die drie stemme en die bekende klanke van vervloë dae hoor; en darem ook die blink van hul rokke in die flou lig sien.

Dankie aan Rita wat die Duwwels hierheen gebring het en die Thaba-gehoor. Duwwels, julle was sterre. Chanie Jonker, die pianis, het geskitter en het haar uitstekend van haar taak gekwyt.

Oor een ding stem almal luidkeels saam – die verhoog bly een van ons gunsteling plekke, en om teater te laat voortleef sal ons kultuurvrate altyd die ekstra myl loop.