EditorialFeatured

IRR maak beswaar teen verlenging van ramptoestand

Die woordvoerder en mediahoof van die SA Instituut vir Rasse Betrekkinge (IRR – South African Institute of Race Relations), Michael Morris, sê in ‘n mediaverklaring dat die minister van Cogta, Nkosazana Dlamini-Zuma, se verlenging van die nasionale ramptoestand tot 15 Desember 2021 skadelik en strydig met feite is.

Morris wys daarop dat die afgelope maand was Suid-Afrika se Covid-19-sterftes tien keer minder as wat dit tydens die tweede golf was. Tans is daar gemiddeld 0,6 sterftes per dag, per miljoen mense. Dít, in teenstelling met die dodetal van meer as 6 mense per dag, per miljoen mense tydens die tweede golf. Soos die grafiek hieronder illustreer, het Suid-Afrika tans die laagste aantal Covid-19-sterftes en -getalle op rekord sedert die hoogtepunt van die eerste golf.

Hierdie feite toon dat, teen die agtergrond van ʼn werklik kritieke Covid-19-bedreiging in die verlede, die huidige situasie nie ʼn nasionale ramptoestand noodsaak nie. Trouens, algehele sterftes (nie as gevolg van Covid-19 nie) is tans ʼn honderd maal groter as Covid-19-sterftes die afgelope maand, volgens Statistiek Suid-Afrika se data. Die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) en ander afwykings van die grondwet wat op “ramp” gebaseer is, lei nasionale wetgewers se aandag van hierdie sterftes af.

Gabriel Crouse sê: “Om dit ʼn ramptoestand te noem, is absurd – dit vererger rampvoosheid, wat beteken as buitengewone maatreëls in die toekoms vereis word, mense minder geneig sal wees om dit ernstig op te neem. Die seun wat ‘wolf-wolf’ geskree het, het dit besef, maar nie Dlamini- Zuma nie.”

Die IRR plaas die verlenging van die nasionale ramptoestand binne die breër tendens van magsmisbruik deur die Cogta-ministerie. Hierdie misbruik is vroeër in Augustus 2021 gedemonstreer toe minister Dlamini-Zuma probeer het om die uitstel van nasionale munisipale verkiesings af te dwing. Die IRR se waarneming dat haar proklamasie irrasioneel was, is deur die konstitusionele hof bevestig. Net soos in die verlede, sal die minister nie sonder openbare druk van haar uitvoerende supermagte afstand doen nie.

Die IRR se prokureurs het verlede week aan die presidensie geskryf en gevra of die NCCC aan selfs die mees basiese vereistes van professionele staatsgedrag voldoen, insluitend die invul van ʼn bywoningslys, die bewaring van vergaderingnotules en ʼn formele struktuur van stemming oor gevolgtrekkings. Tot op hede het die IRR geen antwoord op hierdie mees basiese vrae ontvang nie.

Soos Crouse opmerk, verskans die verlenging van die ramptoestand “die bevelsraad bo en buite strukture van parlementêre toesig, en normaliseer dit die idee dat Suid-Afrika via die bevelsraad ʼn regering het wat om ʼn onbegryplike rede oor sy mense regeer.”