BusinessCommunityFeatured

Eskom: Konstitusionele Hof bevestig die argumente van Sakeliga

‘n Nuwe regspresendent oor eletrisiteitsvoorsiening op munisipale vlak is vandeesmaand geskep toe die Konstitusionele Hof Eskom se aansoek om verlof tot appèl teen die Resilient- en Sabie-uitsprake* geweier het.

Die uitsprake, wat in 2020 deur die Hoogste Hof van Appèl (HHA), gelewer is en nou in 2021 bekragtig is, is grensverskuiwend in die stryd teen munisipale en staatsverval.

Eerstens bied dit elektrisiteitsekerheid op plaaslike vlak, omdat dit verhoed dat Eskom eindgebruikers se krag afsny as ‘n taktiek om munisipale skuld te verhaal.

Tweedens verminder dit die impak van staatsverval, omdat die uitspraak alle staatsinstellings – en nie net Eskom en munisipaliteite nie – verplig om interregeringsgeskilbeslegting te volg eerder as om betalende private, derdepartye te benadeel.

Die regspresedent berus op argumente wat Sakeliga oor meer as twee jaar as amicus curiae (vriend van die hof) ontwikkel het en wat die Hooggeregshof in Pretoria as “nuut” en “deurslaggewend” beskryf het.

Die vernaamste van die argumente sluit in bepalings oor interregeringsgeskilbeslegting; die noodsaak van rasionele skuldinvorderingsmetodes; en die status van ondernemings en die publiek as die werklike eindgebruikers van elektrisiteit, eerder as, soos Eskom aangevoer het, munisipaliteite.

Die oorsprong van die Resilient-saak strek etlike jare terug. Destyds het eindgebruikers in dosyne munisipaliteite grootmaat onderbrekings van elektrisiteit, of dreigemente daarvan, deur Eskom beleef. Dit was toe ‘n algemene gebruik dat Eskom betalende eindgebruikers as ‘n hefboom gebruik om vereffening deur wanbetalende munisipaliteite af te dwing.

Eskom sou elektrisiteit van sowel betalende as nie-betalende eindgebruikers in ‘n dorp weerhou en eis dat ‘n gewoonlik bankrot en verkwistende munisipaliteit sy skuld moet vereffen of reëlings daarvoor moet tref.

Die gevolg was ernstige belemmering van plaaslike nywerhede, wat aanleiding gegee het tot bose kringlope van plaaslike ekonomiese ineenstorting en verdere onvermoë van munisipaliteite om Eskom te betaal.

Die wydverspreide aard van Eskom se elektrisiteitsonderbrekingstaktiek het sowel onmiddellike as blywende ingrypings vereis.

Om die onmiddellike druk te verlig, het Sakeliga met die bystand van plaaslike ondernemings dringende interdikaansoeke teen Eskom en munisipaliteite, in dorpe soos Musina, gebring. Ook ander organisasies het hierdie weg gevolg, insluitende in die Resilient-saak.

Dit was in ‘n stadium algemene praktyk vir besighede, sakekamers, organisasies in die burgerlike samelewing, belastingbetalersvereningings en andere om interdik na interdik teen Eskom en munisipaliteite aan te vra.

Hoewel interdikte, en later soms selfs net die dreigement van interdikaansoeke, genoeg was om die ligte in baie dorpe aan te hou, was dit natuurlik nie ‘n permanente oplossing nie. Eskom het nie die nodige betalings ontvang nie, verspreidingsnetwerke is nie onderhou nie, ensovoorts. Boonop was dit uiters duur vir sakekamers en andere om die probleem met saak-vir-saak-litigasie te hanteer.

Met die oog op ‘n meer blywende oplossing, het Sakeliga gevolglik aansoek gedoen om as amicus curiae by die Resilient-saak aan te sluit. Die Resilient-saak, wat later saam met die soortgelyke Sabie-saak aangehoor is, is gekies omdat dit toe die mees gevorderde en relevante geskil, tussen eindgebruikers aan die een kant en twistende staatsinstellings soos Eskom en munisipaliteite aan die ander kant, was.

Vir Sakeliga se regspan was dit die ideale geleentheid om ‘n presedent, wat in soortgelyke gevalle gevolg sou kon word, te skep. En sowaar, kort voor lank is verskeie hofsake uitgestel in afwagting van uitspraak in die Resilient-saak.

Lees meer.