FeaturedHealth

Medhof bereik 2000 Covid-19 inentings

Medhof Apteek in Thabazimbi het die verlede week hul 2000 merk vir Covid-19 inentings toegedien bereik.

Die tweeduisendste kliënt was Cornel Deysel van Thabazimbi, een van Medhof se getroue kliënte wat baie tevrede is met die gemak en vinnige diens deur Medhof Apteek om inentings toe te dien.

Cornel en haar man, Charl, het so saam-saam hul tweede opvolg-inenting ontvang.

“My man is nogal bang vir ’n naald, maar suster Woest se vriendelike geaardheid en die mooi manier waarmee sy met pasiënte werk, help nogal baie om die vrees te oorkom”, het Cornel aan Kwêvoël na afloop van die inenting gesê. “So maak ons staat op die diens wat Medhof nog al die jare aan ons gesin bied.”

2021_Okt_14_Inent_berig_foto
Driansu van der Nest (links), Apteker by Medhof Apteek, oorhandig aan Cornel ’n aandenking met sertifikaat as die tweeduisendste kliënt van Medhof wat haar Covid-19 inenting daar ontvang het.

Cornel het gedurende 2012 ’n nieroorplanting ondergaan en aangesien sy deurentyd bewus is van alles wat ’n invloed kan hê om haar veilig en gesond te hou het sy haar eie studie gedoen om die regte ding te doen.

“Sedert my nieroorplanting het ek besef dat ’n sterk immuniteitstelsel noodsaaklik is om enige infeksies af te weer. Ek het my nie opgehou met alles wat mense op sosiale media kwytraak nie, maar mediese dokters wat vertroud is met my situasie genader vir raad oor hoe ek die inenting moet hanteer.”

“Aangesien enige Covid-19 infeksie die immuniteit verder afbreek, het die terugvoering wat ek ontvang het duidelik uitgewys dat ek my teen Covid-19 moet laat inent”, het sy verder vertel.

“Ek moes twee familielede aan Covid-19 gedurende die tyd voordat inentings beskikbaar was afstaan. Ek het besef dat ek myself moet veilig hou en teen die virus beskerm en daarom was dit nie moeilik om uiteindelik die stap te neem nie.”

Cornel het mense aangemoedig om hulle self te laat inent om daardeur immuniteit teen die virus op te bou.

Medhof doen inenting teen Covid-19 vir alle privaat en mediesefonds kliënte. Die betrokke mediese fond betaal hul kliënte se inentings terwyl privaatpasiënte dit steeds gratis ontvang aangesien die staat vir hierdie kostes instaan.

Indien jy nog nie geregistreer het om die inenting te ontvang nie, nader hulle gerus om uit te vind wat die vereiste prosedure is. Hulle sal jou graag hiermee bystaan. Almal 18 jaar en ouer kwalifiseer om teen Covid-19 ingeënt te word.