Jou Sonskyn-Vitamien onder die vergrootglas
Vitamien D vervul heelparty belangrike funksies in jou liggaam. Dit is betrokke by die liggaam se absorpsie van kalsium, jou immuniteitstelsel en beskerm ook die beenstruktuur, spiere en die algemene gesondheid van jou hart.
Vitamien D kom natuurlik in voedsel voor en word deur jou liggaam vrygestel sodra jy aan sonskyn blootgestel word.
Buiten olieryke vis is daar min voedsel wat ryk is aan vitamien D. Dit klink onwerklik maar tog is daar heelwat mense in Suid-Afrika wat nieteenstaande al ons sonskyn nie genoegsaam blootstelling aan die son geniet om voldoende hoeveelhede vitamien D te produseer nie.
Vitamien D – Tekort en die toksiese invloed van ’n oormaat
Vitamien D is van die uiterste belang vir jou algehele gesondheid. Selfs al sou jy ’n baie gesonde dieet volg, mag jy dalk steeds aanvulling van vitamien D benodig om optimale bloed- en kalsiumvlakke te handhaaf.
Covid-19 het mense bewus gemaak van ’n gesonde immuniteitstelsel asook optimale bloedvlakke wat erg aangetas kan word in pasiënte wat wel die Covid-virus opgedoen het. Een van die bykomende vitamiene wat voorkomend gebruik moet word, is juis vitamien D om doeltreffende immuniteitvlakke en verbeterde hartgesondheid te verseker.
Te veel van ’n goeie ding kan dalk nadelig vir jou liggaam wees. Vitamien D is juis een van hierdie gevalle.
Vitamien D2 en D3 is as aanvullings vrylik beskikbaar. Vitamien D3 word in reaksie tot blootstelling aan sonlig vrygestel en word ook in diereprodukte aangetref, terwyl vitamien D2 in plante voorkom.
Ongelukkig kan die toediening van buitengewone hoë dosisse van vitamien D3 oor lang tydperke tot die opbouing daarvan in jou liggaam aanleiding gee.
Deur reg te eet en gereeld blootstelling aan sonlig te kry is nie genoegsaam om sulke hoë vlakke te bereik nie, tensy die persoon aanvulling van Vitamien D neem en die voorgeskrewe dosis soos aangedui is vir lang tydperke oorskry. Newe-effekte kan naarheid, braking en ’n swak eetlus insluit.
Maagpyn, hardlywigheid en diarree, wat gewoonlik met reaksies op sommige kos en prikkeldermsindroom vereenselwig word, kan moontlik aan ’n oormaat van vitamien D toegeskryf word en sal dit dan raadsaam wees om jou geneesheer te nader indien so ’n toestand sou voortduur.
Aangesien Vitamien D ’n belangrike rol vervul in die absorbering van kalsium deur die skelet, is voldoende vitamien D uiters noodsaaklik om ’n sterk beenstruktuur te handhaaf. Indien jy onseker hieroor is, kom besoek gerus ons apteker by Medhof Apteek vir raad oor die korrekte en mees effektiewe aanvulling van Vitamien D wat in jou behoefte sal voorsien.