Burgemeester waarsku teen onreëlmatige aanwending van toerusting
Die Burgemeester van die Thabazimbi Munisipaliteit, raadslid John Fischer, het tydens die oorhandiging van die toerusting wat deur PPC aan die munisipaliteit geskenk is om die dorp se vullis te verwerk en te beheer, munisipale werkers gemaan om toerusting slegs aan te wend waarvoor dit bestem is om aangewend te word.
Die toerusting, bestaande uit ’n laaigraaf en vyf vullishouers (skip bins) met ’n gesamentlike waarde van R750 000, is op Dinsdag 14 September tydens ’n oorhandigingseremonie aan die Thabazimbi Munisipaliteit oorhandig
Fischer het PPC geloof vir die ondersteuning en hulp wat hulle reeds verleen het wat insluit onlangs probleme wat by die dorp se pompstasie ondervind is asook die bou van toilette vir verskeie gemeenskappe in die gebied. Hy het die groep se ondersteuning in die drie vernaamste bedrywe waar die munisipaliteit ’n ondersteunende rol moet speel naamlik mynbou, landbou en toerisme, vergelyk met ’n familie wat mekaar se werksaamhede bloot uit die verhouding ondersteun om gesonde en voortvarende gemeenskappe daar te stel.
Met verwysing na die Munisipale wet wat toepassing op die Raad en die taak van beamptes is het Fischer daarop gewys dat foute met die toepassing van hierdie wet voorheen veroorsaak het dat heelwat toerusting van die hand gesit is sonder dat die verantwoordelike persone ooit vir die verlies van hierdie toerusting aanspreeklik gehou is.
Hy het die waarnemende Munisipale Bestuurder direk aangespreek en gesê dat hy moet verseker dat die bates wat tydens die geleentheid aan die munisipaliteit geskenk word nie verkwansel mag word nie.
Hy het hom ook verder daarop gewys dat hy moet toesien dat slegs bevoegde persone die toerusting mag hanteer. Dit is in die belang van die gemeenskap dat hierdie bates ter bevordering van die gemeenskap aangewend moet word. Daarom moet dit ook behoorlik gebruik en in stand gehou word.
Fischer het ook verwys na ’n voorval waartydens ’n munisipale voertuig beskadig is terwyl dit sonder toestemming vir iets anders as waarvoor dit veronderstel is om aangewend te word gebruik is, sonder om spesifiek hierna te verwys. Wat hy wel genoem het, is dat die gebruik van die voertuig deur niemand goedgekeur is nie en dat daar ook geen skadeverslag ingedien is, nog minder wie die voertuig gebruik het nie.
Ter afsluiting het hy PPC beloof dat die munisipaliteit dringend aandag aan die slaggate op die verbindingsroete tussen Dwaalboom en Thabazimbi sal skenk.