CommunityFeatured

Bekende inwoner sterf in padongeluk

Een van die Thabazimbi distrik se bekendste vroulike Professionele Jagters (PH), Jenny van Vuuren (59), het Vrydagmiddag 17 September gesterf nadat die bakkie waarin sy gereis het verskeie kere gerol het. Jennie wat alleen in die voertuig was, het tydens die ongeluk uit die voertuig geval en het ernstige noodlottige beserings opgedoen.

Die ongeluk het omstreeks 17:00 die middag op die draai by Pondok op die Marakeli-pad plaasgevind. Die draai is bekend vir verskeie noodlottige ongelukke wat reeds daar plaasgevind het. Die vermoede bestaan dat ’n agterband van die bakkie gebars het, en met die bak vol brandhout gepak, het dit toe gerol.

Die ambulans was binne minute op die toneel maar dit was reeds te laat vir Jenny wat blykbaar gesterf het terwyl helpers haar op die draagbaar gelaai het.

Jenny het tot onlangs vanaf ’n plaas in die Rooibokkraal gewerk. Die Suid-Afrikaanse Covid inperkingsbepalings het veral die jagindustrie erg geknou en so het dit dan ook gebeur dat die plaas waar sy gebly het verkoop is en sy onlangs ’n nuwe blyplek op die Marakeli pad uit bekom het.

Jenny het gedurende die sestigerjare op Sentrum grootgeword waar haar ouers, Nico en Maureen de Villiers reeds vir jare die algemene handelaarwinkel op Sentrum bedryf het. Sy het haar laerskooljare op Groenvlei Laerskool voltooi en het haar matriek aan Hoërskool Frikkie Meyer afgelê.

Op HFM het sy in verskeie sportsoorte uitgeblink en het haar provinsiale kleure dan ook in meer as een sportsoort behaal. Jenny was akademies ook baie sterk en een van die skool se akademiese uitblinkers. Reeds van kleins af was sy baie aangetrokke tot die plaaslewe en het sy haar eie perde en boerderytjie van kindsbeen af bedryf op die gesin se familieplaas, Groenvlei net oorkant die pad vanaf die winkel en wat aan die skoolterrein gegrens het.

So het sy dan ook later jare, toe haar ouers ouers nie meer die winkel alleen kon bedryf nie, voltyds by die besigheid en plaas betrokke geraak. Ten tye van hul afsterwe het sy reeds die hele boerdery self behartig. Jenny was iemand wat vir die veld gelewe het en het toe ook later haar as Professionele Jagter bekwaam wat vir verskeie jagondernemings in die omgewing gewerk het.

Jenny se oudste kind, Cobus, werk tans in Amerika waar hy nes talle jong mans moes uitwyk om vir homself ’n bestaan te maak deur op die plase vir boerderye te werk terwyl haar dogter, Nicky, saam met haar man en twee dogters in Botswana vir hulle ’n tuiste geskep het.

Die gedenkdiens vind Donderdag 23 September om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk, Vlieggepoort gemeente op Thabazimbi plaas. Sy word oorleef deur haar twee kinders en twee kleinkinders asook haar twee susters, Maureen wat met haar gesin in Rustenburg woon en Nans wat tans saam met haar man in Thailand is waar hulle Engelse klasse aanbied.