Koffer vol energie land op KunsteGrot verhoog
Dit was kompleet asof ’n koffer vol energie op die KunsteGrot se verhoog beland het toe Lizz Meiring weer vir nuwe lewe gesorg het nadat haar vertoning verskeie kere uitgestel moes word weens vlaag op vlaag van Covid-19 golwe wat oor die land gespoel het.
Teatergangers het uiteindelik op Vrydag 17 September geleentheid gekry om vir Lizz in aksie te sien terwyl sy die koffer bietjie uitgepak het met Kameras, Kleedkamers en Konserte. In hierdie klets en skerts-konsert het Lizz meer vertel van wat nie alleen op die verhoog aangaan nie, maar dit wat agter die skerms gebeur.
Hierdeur was die woelinge en waansin, die tragedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit van die lewe van ’n aktrise vasgevang. paaie Alles op die paaie na verhoë op ver plekke, plaaslik en internasionaal.
Uit die staanspoor het sy daarop gewys dat alles wat gebeur is berigte, stories en wat op die verhoog gebeur is net ’n storie wat vertel word. Sosiale media het egter veroorsaak dat die mense nou hulle eie stories opmaak en as die waarheid op die internet versprei.
Dit is egter die manier waarop verskeie mense in ander se karakters kan inklim, die giftige kommentaar wat hulle oor ander kan lewer. Hulle voel dit is hulle reg om hul eie opinie te uiter en dit is juis hier waar ’n mens maar versigtig moet wees. So kan die woordjie ski met ’n addisionele ‘e’ op die verkeerde plek twee verskillende berigte uitstuur.
Lizz het as nege-jarige dogtertjie reeds in haar eerste rol op die verhoog opgetree. Onder leiding van die bekendste dramaturge in ons geskiedenis van teater het sy gereeld in verhoogstukke opgetree en uiteindelik het sy nie alleen haar as aktrise op die verhoog, voor TV kameras en in flieks gevestig nie, maar ook as uitstekende skrywer van talle verhoogstukke, choreograaf en regisseur bewys.
Dit is dan dat ’n mens besef dat die verhoog nie oor die akteur gaan nie, dié is maar net nog ’n skaam persoon wat agter die karakter wat hy of sy vertolk wegkruip. ’n Manier om elke keer nuwe lewe aan ’n ander karakter wat jy vertolk te verleen.
Teaterganger het Lizz se vertoning baie geniet en sy het belowe om in die toekoms beslis weer die KunsteGrot te kom besoek. Na afloop van die vertoning het Lizz gemaklik tussen besoekers beweeg waar hulle nog vir lank gesellig om hul piekniekmandjies saamgekuier het.
Die volgende optredes wat reeds vir hierdie jaar vasgemaak is, is die Doringdraadduwwels van Thabazimbi se eie Mari van Jaarsveld, vergesel van haar twee universiteitsmaats wat kom besoek aflê. Diegene wat die vorige vertoning van hierdie drie dames gesien het, sal kan getuig dat hulle die aand die moeite werd sal maak met heerlike vermaak.
Op 19 November kry Dowwe Dolla geleentheid. Sy is beslis nie iemand om mis te loop nie en aangesien daar steeds beperkte toegang van krag gaan wees, bespreek maar eerder vroegtydig jou kaartjies.
Vir verdere navrae en besprekings, kontak gerus vir Rita by 083 744 8559.