Ysterberg Voortrekkers vier Voortrekkers se 90ste met projekte
Ysterberg Voortrekkers op Thabazimbi het twee gemeenskapsprojekte afgehandel ter viering van die Voortrekker-organisasie se negentigste bestaansjaar.
Die een projek was die Sop-in-’n-Bottel Winter Projek waar beoog is om 90 bottels met die droë sopbestanddele te vul en onder behoeftige lede in die gemeenskap te versprei.
Hierdie projek is suksesvol afgehandel en Ysterberg Voortrekkers bedank elke offisier, heemraadslid, kinders in die Voortrekkers en enkele lede van die publiek vir die skenking van leë bottels asook individuele bydraes wat gemaak is om hierdie projek moontlik te maak.
Veldkornet Danie Naudé het namens Ysterberg Voortrekkers se offisiere, heemrade, ouers en jeuglede die oorhandiging van die sop bottels behartig. Weens die inperking kon die Voortrekkerlede nie die oorhandiging saam meemaak nie.
Paul Bester neem die bottels met sopbestanddele namens die SAVF Thabazimbi in ontvangs.Die skenking aan die Tambotie Versorg sentrum word hier deur Barbara Pienaar in ontvangs geneem. Magriet Hermann ontvang die skenking aan Huis Immergroen ouetehuis by Veldkornet Danie Naudé. Die bottels wat vir die Thabazimbi Shelter bestem was word deur Beverly Spira Kühn in ontvangs geneem. Veldkornet Danie Naudé van Ysterberg Voortrekkers met die 80kg proppies wat ingesamel is. Hierdie proppies sal aan die Magalieskruin Voortrekker op Rustenburg oorhandig word om by hulle eie versameling van plastiekproppies te voeg.
Nog ’n projek wat nou afgesluit is, is die plastiek-proppie projek waar doppies versamel is wat aangewend kan word vir die aankoop van ’n rolstoel. Ysterberg Voortrekkers se jeuglede het oor die periode 2020 tot nou 80kg proppies bymekaar gemaak vir hierdie projek.
Hierdie proppies gaan aan die Magalieskruin Kommando Rustenburg geskenk word om by hul proppies te voeg tot daar genoeg proppies bymekaar gemaak is om ‘n rolstoel aan te koop. Hierdie rolstoel sal geskenk word aan ‘n persoon of instansie waar daar ‘n behoefte bestaan.