CommunityFeaturedGeneral

HFM pionier en legende sterf op 87

Mnr Dirk van Tonder (16 Augustus 1934 – 25 April 2021), beter bekend onder die leerlinge as Oom Dirk, is Sondagoggend 25 April 2021 in Netcare Pretoria-Oos Hospitaal oorlede nadat hy vroeër met ernstige nierversaking opgeneem is.

Hy het reeds vir etlike jare nierprobleme ondervind en was die afgelope vyf jaar kort-kort ernstig siek. Volgens die familie het ander klein mediese toestande soos die velkanker wat gereeld behandel moes word en oogchirurgie gemaak dat sy liggaam langer gevat het om te herstel.

Teen middel Februarie vanjaar was hy reeds drie maal in die hospitaal opgeneem met onder andere lae hemoglobientelling, kritieke lae bloeddruk, galblaasontsteking en stene en boonop het hy gedurende sy verblyf in die hospitaal Covid opgedoen.

Die dokter wou hom om hierdie rede eerder uit die hospitaal hou en sy eggenote, Lets en een van die dogters, Anita, het hulle lewens eenkant toe geskuif om vir Dirk by  die huis te versorg.

Dirk en Lets van Tonder het as jong getroude paartjie kort na die ingebruikneming van die skoolgebou van Hoërskool Frikkie Meyer na Thabazimbi verhuis waar Dirk, buiten Geskiedenisonderwyser, ook huisvader van die skool se Impala Meisieskoshuis was.

Dit was veral die leerlinge van die laat sestiger- tot die sewentigerjare vir wie hy ’n groot rolmodel was. Hy was besonder geliefd onder die koshuiskinders en as onderwyser het hy menige leerlinge geïnspireer in sy Geskiedenisklas.

As korfbalafrigter het hom onderskei en was besonder gewild onder die skool se korbalspanlede asook op die atletiekveld waar hy baie betrokke was.

Vir sy harde werk en talle insette wat hy gelewe het vir hierdie groeiende nuwe hoërskool is hy dan ook beloon met die hoofpos by Hoërskool Sekunda waar hy ook as hoof gedien het tot en met sy aftrede.

Dirk en Lets, Lettie of Nooi, soos hy haar genoem het, was 60 jaar getroud, het een seun en drie dogters. Die kinders is Debbie en One Botha, Anita Smit, Pieter en sy eggenote Adele wat met hulle kinders in Nieu-Zeeland woon en wat nie weens grense wat gesluit is as gevolg van Covid hul pa kon groet nie en Salome en Juan Pretorius.

Die kinders het aan Kwêvoël genoem dat die kleinkinders Dirk se trots en vreugde was. Hulle is Solette (Blou oog) en Marthinus Nel. (Oupa Dirk was Solette se eerste dagmoeder – vir beter kon mens nie vra nie); Era-Mari (Eri/Twakkies) is haar oupa se verjaarsdag maatjie en het op 8 Mei met MJ Blom in die huwelik getree; Dihan (Genant) en Hernu (Little Boy Blue) van Tonder in NZ en Larah (Oupa se prinsessie) Pretorius en Wihan (Oupa se Grootseun) Pretorius. Die oudste kleinkind is 27 en die jongste is pas vier jaar oud.

Die begrafnis was Maandag 3 Mei.

Een van HFM se grotes nie meer

Huldeblyk deur Jan Robbertse – Mede-kollega van Dirk van Tonder

Dirk was ‘n voorbeeld as Christengelowige mens. Hy was ‘n uitstekende onderwyser, soos sy leerlinge getuig, en ‘n besondere opvoeder. Hy het alles feil gehad vir sy leerlinge en het altyd meer gedoen as wat van hom verwag is.

Hy is beloon vir sy harde en eerlike werk en was adjunkhoof by Frikkie Meyer en later as hoof van Hoërskool Sekunda. As kosuisvader het hy diep in die harte van die koshuisgangers gekruip.

Hy was streng maar regverdig en het die gawe besit om na elke versoek te luister en elke saak op meriete te behandel. Sy hart was gevul met liefde daarom was sy mede kollegas en leerlinge ook lief vir hom.

Ook by die buitemuurse aktiwiteite het hy om onderskei as gedugte afrigter in veral atletiek en korfbal. As leier en organiseerder het hy diep spore getrap. Hy het vele interhoër atletiek-byeenkomte gereël. In Korfbal het hy gedien op die Noord-Wes Transvaalse Korfbalbestuur asook op die Keurkomitee.

Hy het homself bekwaam as kofbalskeidsregter op Provinsiale, Nasionale en Internasionale vlak. Hy het die voorreg gehad om op Thabazimbi ‘n wedstryd tussen die Korfbal Springbokke en ‘n Uitnodigingspan te blaas wat hy uitstekend hanteer het.

Dirk van Tonder was ‘n mens-mens wat respek afgedwing het by almal wat sy pad gekruis het. Hy was nederig, vriendelik, innemend, opreg, meelewend en minsaam. Wat ‘n mens was hy nie?

Indien ek sou voorgee dat dit wat hierbo gestel is alles is wat van Dirk van Tonder as onderwysman gesê kan word sal dit die grootste oneer wees wat ooit aan ‘n mens gedoen is.

Lank lewe die nagedagtenis van Dirk van Tonder as onderwysman, vriend, kollega en onderwyser.