EntertainmentFeatured

Lizz Meiring bring nuwe lewe na die KunsteGrot

Daar is weer nuwe lewe vir die KunsteGrot met Lizz Meiring wat op Thabazimbi kom kuier met ’n lekker klets en skets vertoning – ‘Kameras, Konserte en Kleedkamers’.

Die vertoning is op Vrydag 21 Mei om 19:00 en die gehoor kan hulle gereedmaak vir ’n vermaaklike vertoning, eg op die Lizz Meiring manier. Hierdie vertoning bied uitstekende vermaak soos net Lizz dit kan doen en is geskik vir die hele gesin maar nie vir voorskoolse kinders nie.

In “Kameras, Kleedkamers en Konserte” ’n klets en skets konsert – vertel Lizz van die woelinge en waansin, die tragedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit, die beroemdes en berugtes, die vreugdes en vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.

Sy onthul die ver paaie se reis – plaaslik en internasionaal, die vreemde kleedkamers, verhoë, film en TV stelle, die soms vreemde gedrag van gehore, luisteraars, kykers en bewonderaars.

In die uiters vermaaklike stuk, vol verrassings oor die vermaaklikheidsbedryf, kry die gehoor ’n agter-die-skerms ervaring soos nog nooit vantevore. Daar is ook fiktiewe karakters en sketse.

’n Stroom karakters uit haar skeppende skatkis maak hul opwagting – dis vars, slim, snaaks en soms meer ernstig. Dis oorspronklik, deernisvol en uiteindelik die storie van oorlewing en belewing – uiteindelik die verhaal van die aanslae, gelukskote, opslae en wenslae van die lewe – waarmee elkeen kan indentifiseer.

Kaartjies beloop slegs R130 per persoon en onthou om gerus die piekniekmandjies te pak. Die Grotspensie sal in volle werking wees.

Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. Bespreek dus vroegtydig om nie hierdie vertoning met een van die land se gewildste Afrikaanse aktrises mis te loop nie.

Bsprekings kan gedoen word by Rita – 083 744 8559. Veilige parkering met veiligheidswagte.

Geniet weereens uitstekende vermaak in ons eie Bosveld Teater. Alles geskied binne die Covid-19 Inperking beperkings – onthou dus die masker.

2021_Mei_1_Lizz_kom_na_Thaba_flyer