Bosveldseun Presteer Uitmuntend
Johannes Lodewikus (Wikus) van Heerden is op 25 Februarie 1979 in Johannesburg gebore. Hy is die seun van Moaner Van Heerden wat in 1972 vir Noord Transvaal begin speel het en sedert 1974 tot 1980 as slot vir die Springbokspan in 17 toetswedstryde op die veld uitgedraf het.
Gedurende die 1980’s het die gesin na ‘n plaas naby Makoppa in die Thabazimbi distrik verhuis en Wikus begin in 1986 sy laerskoolloopbaan hier diep in die Bosveld by Laerskool Van Wykskraal op Makoppa. Gedurende sy laerskool jare blink hy veral in atletiek en rugby uit.
Vanaf dag een was hy ‘n woelige rugbyspeler, iemand wat van jongs af die oog gevang het. Na laerskool skryf hy as leerling in by Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi waar hy weereens in atletiek en veral rugby uitblink. Hy verwerf ook gedurende hierdie tyd sy Provinsiale kleure in atletiek. Dit is hier waar hy die fynere vaardighede van die spel rugby leer by die skool se hoof rugbyafrigter, Deon Azar.
In 1996, gedurende sy Graad 11-jaar, tree sy besondere leierseienskappe na vore en hy dien as onderhoofseun-sport van sy skool asook onderhoofseun in die seunskoshuis.
Die volgende jaar skuif Wikus na Pretoria en hy voltooi sy Graad 12 aan die Hoërskool Waterkloof waar hy uitblink in swem, tennis, atletiek en weereens in rugby. Gedurende hierdie jaar verwerf hy sy Noord Transvaal kleure in skolerugby en word ook gekies as lid van die SA Akademiespan. Hy lewer in hierdie jaar deurlopend uitmuntende spel.
Sy eerste jaar na kool, in 1998, speel hy vir die Sharks o/21 rugbyspan. Daarna gaan studeer Wikus by RAU in Johannesburg, deesdae die Universiteit van Johannesburg, en ontvang hy in dieselfde jaar sy eerste professionele rugbykontrak.
Vanaf 1999 tot 2003 word Wikus deur die Leeus gekontrakteer. Gedurende 2001 is hy deel van die Leeus se o/21 span wat die SA-kompetisie wen. Die volgende hoogtepunt was in 2022 en 2003 waar hy deel was van die Leeuspan wat die VODACOM Beker-kompetisie wen.
Hiervandaan skuif hy oor na Pretoria en help die Blou Bulle in 2008 om die Superrugby kompetisie te wen. In 2009 en 2010 speel hy oorsee waar hy 47 wedstryde vir die Saracens Klub speel. In 2011, nadat Saracens hom van sy kontraktuele verpligtinge vrygestel het, het hy weer vir die Leeus uitgedraf en was hy deel van die span wat die Curriebeker in 2011 wen.
Wikus bloei vir die Bulls in die finaal van die Bulls teen die Sharks in Durban,
Wikus in aksie in ‘n wedstryd van Noord Transvaal teen WP.Wikus duik oor om ‘n drie te druk. Vat So! . . . Ons het hom! Wikus as Springbok in aksie op die rugbyveld. Wikus saam met pa Moaner met hul selfverdiende Springbok kepse.
Wikus het sy Springbokkleure reeds op 7 Junie 2003 teen Skotland in Durban verwerf. In 2007 speel hy in die Springbokspan wat die Wêreldbeker teen England op die Stade de France in Frankryk 15-6 wen in wat hyself beskou as een van sy beste wedstryde naas die 2007 Wêreldbeker wedstryd teen Australië in Sydney.
Wikus speel altesaam in 14 toetse vir die Bokke, 97 Superrugby wedstryde en 99 wedstryde vir die Leeus. Verder speel hy 240 Eersteklas-wedstryde en druk 49 drieë.
Wikus het gedy as rugbyspeler onder die afrigters en volgens Heineke Meyer, Frans Ludike, Eddie Jones en John Mitchell word Wikus as ‘n besonder goeie leier in die rugbywêreld beskou.
Hy praat nie baie nie maar besit die gawe om deur sy voorbeeld op en van die veld af te lei wat groot agting en respek by sy medespelers afdwing.
Na sy rugbyloopbaan het Wikus se leierskap en visie in die lewe hom gehelp om ‘n besondere loopbaan te volg naamlik as Bestuurder en Aandeelhouer van SMS Mining op die Elandsmyn te Brits waar hy betrokke is by vervoer, die beheer oor groot- en swaarmasjiene asook ondergrondse ondersteuning.
Wikus trou in 2006 met sy aanvallige wederhelfte Veroeska. Hulle het drie kinders waarvan die twaalfjarige Evan tans hoofseun van die Laerskool Rustenburg is, gevolg deur Ruben (11) en ‘n pragtige dogtertjie, Mischa (8). Al drie die kinders is lief vir sport en presteer uitermatig goed daarin.
Wikus se geloof vind aanklank deur sy gesin en die meelewing in sy gemeenskap. Daarvan getuig sy ondersteuning, hulp en diens aan sy gemeenskap en aan sy kinders se skool.
Mag elkeen wat hierdie kort Biografie van Wikus onder oë kry geïnspireer word deur die uitmuntende prestasie van ‘n Bosveldseun wat deur harde werk, deursettingsvermoë en geloof hierdie besondere hoogtes in sy lewe kon bereik. – Samesteller: Jan Robbertse.