Voortrekkers hou eerste kamp sedert Covid-19 Inperking
Die Ysterberg Voortrekkers van Thabazimbi het uiteindelik hul eerste kamp sedert die afkondiging van die Inperking gedurende Maart 2020 gehou.
Die kamp is vanaf Vrydag 23 April tot Sondag 25 April by die Klipbokkie Staproete aangebied en gedurende hierdie tyd kon daar ’n verskeidenheid van aktiwiteite aangebied word wat net in die veld kan geskied.
’n Paar ouers het saam met die offisiere en heemraadslede saamgegaan om te help met toesig en aktiwiteite.
Met die koue wat begin toeslaan het, was die twee 10-bed bungalo’s baie welkom. Daar was egter so ’n paar brawe offisiere wat die koue in hul tent aangedurf het vir die buitelug ervaring onder die sterrehemel.
Soggens om sesuur het die Kampkommandant, Veldkornet Danie Naudé, die fluitjie geblaas dat almal moes opstaan en in te val by die aktiwiteit soos vooraf vir elke dag beplan is.
Terwyl die Voortrekkers hulle vir die dag reggemaak het, het die heemraadslede solank die ontbyt voorberei. Hier was dit veral Wynand Manders wat die voorslag in die kombuis was met van die offisiere wat ook hulp verleen het wanneer die druk toegeneem het en hulle nie ander take gehad het nie.
Vrydagaand met die aankoms is dadelik ingespring om die wors op die vuur te kry vir aandete. Elkeen het sy eie stokbrood gebraai en met hierdie aktiwiteit afgehandel het hulle gaan fakkel-loop deur die misterieuse “mini-woud” waar hulle die skatkis moes gaan soek.
Saterdagoggend het begin met koffie en beskuit waarna hulle vroeg die bergroete tot by die hoogte aangepak het en die bewuswording van die natuur kon ervaar. Die brawe Voortrekkers en offisiere het die berg nog hoër aangepak terwyl die ander offisiere met die klein kinders solank terug beweeg het na die kamp waar ’n heerlike laatontbyt-ete op hulle gewag het.
Foto’s onder: Die Bergroete wat Saterdagoggend aangepak is bring die Voortrekkers in kontak met die veld en kon hulle bewuswording van die natuur om hulle ervaar – dit wat die Voortrekkers destyds beleef het toe hulle die binneland ingetrek het.
Op pad terug moes die klein kinders elkeen ’n lekker klip uitsoek wat hulle terug kamp toe moes neem vir hul volgende aktiwiteit. Na die ete het hulle verf en kwaste gekry en moes hulle hul klippe self verf. Na die klippe het hulle ook klein gipsbeeldjies gekry wat hulle kon verf.
Foto’s onder: Na Saterdagoggend se berguitstappie moes die jonger Voortrekkers hulle klippe verf wat hulle tydens die oggend uitstappie self moes uitsoek en terugbring kamp-toe.
Die groter kinders se aktiwiteit was om ’n bosyskas in die grond te bou waar items soos melk of water en ander bederfbare kos koel gehou kon word as ’n noodplan indien jy gestrand sou wees in die veld. Om die bosyskas te bou moes hulle ’n gat in die grond grawe, dit met nat koerantpapier uitvoer en ’n deksel van stokke en koerantpapier maak.
Foto’s onder: Seniors bou ‘n bosyskas – Van ’n gat in die grond grawe tot ’n werkende bosyskas om bederfbare produkte koel te hou.
Hierna was daar tyd vir bietjie pret en is daar lekker in die sand en met kleigrond gespeel terwyl hulleself van die modder besmeer was. Vir die Voortrekkers is daar altyd tyd vir pret en vuil word!
Dit is opgevolg met bietjie skoner pret toe hulle kolwyntjies moes versier.
Die volgende aktiwiteit het ook heelwat pret ingehou maar om daar te kom moes hulle die drie kilometer pad met die Klipbokkie Watergat wandelroete aanpak. Die altesaam ses kilometer se stap heen en weer was beslis die moeite werd vir al die pret wat hulle by die Watergat gehad het. Lounelle du Plessis was die jongste wat die roete aangepak en voltooi het. Hierdie uitdagende roete en lekker avontuur was beslis die moeite werd.
Foto’s onder: Saterdagmiddag het die groep die roete na die Klipbokkie Watergat aangepak – Klein Lounelle du Plessis het heelpad bygehou.
Die aand se aktiwiteite het ingesluit lantern-bekruip en weereens ’n fakkel-loop. Hulle het onder die sterre gelê en die helder sterre in die Bosveld hemelruim bekyk waar ’n ander helder prentjie van duisende sterre oopgemaak het sonder die dorp se ligte wat pla. Later die aand was daar weereens pret met die marshmallow-braai.
Onder: In die misterieuse Woud was daar ’n paar geheime te sien terwyl hulle na die skatkis gesoek het. – ’n Groepie Voortrekkers wat kom kyk het terwyl die groter lede die klein mangoboompie op die perseel plant.
Sondagoggend het almal weer die bergroete geneem tot op die punt waar hulle die bewuswording gehad het vir die oggend godsdiens waar almal oor die mooi landskap kon uitkyk en bewus word van God se skepping.
Sondagoggend, na ontbyt en oppak, was dit tyd vir die laaste aktiwiteit. Ysterberg Voortrekkers het dit goedgedink om hul voetspore by Klipbokkie na te laat deur ’n mangoboompie te plant wat hulle weer kan besoek sodra hulle weer geleentheid kry om by Klipbokkie te gaan kamp. Mag hy baie vrugte dra.

Hierdie heerlike naweek, met ’n kamp wat vele uitdaging, pret en avontuur ingehou het, is absoluut onvergeetlik en beslis ’n kamp om te onthou.