CommunityFeatured

Thabazimbi se grootste kampvegter nie meer nie

Marie Steenekamp (87), sekerlik die grootste kampvegter en organiseerder om liefdadigheids- en versorgingsprojekte in die gemeenskap op die been te kry en te laat werk, is Dinsdagoggend vroeg na ’n kort siekbed oorlede.

Marie se huishulp, Eva, het Vrydagoggend 9 April onraad vermoed toe sy nie gereageer het om die elektriese skuifhek vir haar oop te maak nie. Sy het die bure genader maar Marie het ook nie haar telefoon geantwoord nie. Die hulp van die sekuriteitsfirma is ingeroep waarna toegang tot haar huis verkry is en Marie op die vloer in haar sitkamer aangetref is. Sy het teen die meubels geval en was te swak om weer op te staan of om hulp te roep.

Toe hulp uiteindelik opdaag was sy by haar positiewe en haar geneesheer, dr Andries Buys, is gekontak wat gereël het dat sy vir behandeling in Mediclinic Thabazimbi Hospitaal opgeneem word.

2021_April_15_Marie_Foto7
Marie saam met haar dogter Emmarie en kleindogter Marike.

Volgens haar dogter Emmarie en haar man Corrie wat na haar ma in die hospitaal omgesien het, was haar ma swak maar het met hulle gesels. Daar is toe ook bevestig dat sy reeds vir meer as ’n jaar gelede met kanker gediagnoseer was. Toe sy opgeneem is was die kanker reeds baie gevorderd en deur haar hele liggaam versprei en organe aangetas. Weens haar hoë ouderdom en persoonlike keuse het sy, sedert kanker gediagnoseer is, dit geheim hou en geen kankerbehandeling ondergaan nie.

Na die naweek het haar toestand skielik versleg en sy is Dinsdagoggend omstreeks 03:00 oorlede.

’n Gedenkdiens word Maandag 19 April om 11:00 vanuit die NG Kerk Thabazimbi gemeente gehou. (Sien aangehegte kennisgewing)

Tannie Marie, soos sy beter in Thabazimbi omgewing bekend gestaan het, het as pas gekwalifiseerde onderwysstudent haar eerste aanstelling in die onderwys in 1954 by die laerskool afdeling van die Thabazimbise Skool aanvaar. Aan die begin van 1960 is die skool in twee aparte skole, steeds op dieselfde terrein van huidige Laerskool Thabazimbi, opgedeel naamlik Laerskool Thabazimbi en die hoërskool elk met sy eie hoof. Mnr Piet Botha het aangebly as hoof van Laerskool Thabazimbi en dr Klasie Botes is as die tydelike hoof van die hoërskool aangestel. Die hoërskool het gedurende 1961 na die nuwe skoolgebou verskuif onder die naam van Hoërskool Frikkie Meyer.

Baie inwoners en oud leerlinge van Laerskool Thabazimbi, selfs ouer as 60, het op een of ander stadium deur Marie se hande gegaan, hetsy as klasonderwysers, korfbal afrigter of gewoonweg net as daar aangetree word vir skoolopening. Van die meer as 66 jaar wat Marie inwoner van Thabazimbi was, was sy slegs vir die afgelope jaar of twee, as gevolg van die feit dat sy moeilik geloop het, op een of ander manier steeds betrokke in die gemeenskap om die las van ander mense ligter te maak.

Buitemuurs was sy steeds met die jeug betrokke as offisier verbonde aan die destydse Manie Maritz Voortrekker Kommando wat vir jare aktief op Thabazimbi was.

Marie se godsdiens was haar erns en sy was tot ’n paar jaar gelede, as ouderling, lid van die kerkraad van die NG Kerk Thabazimbi gemeente en was sy ook ’n aktiewe lid van die kerk se Vroueliga.

Marie (Swanepoel) is in 1933 in Pretoria gebore as die oudste van vier kinders met nog twee susters en ’n broer. Haar laerskoolloopbaan voltooi sy by Laerskool Generaal Nicolaas Smit en as leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria verwerf sy haar matriek in 1951. Hierna het sy haar onderwysdiploma behaal aan die Pretoria Normaal Kollege.

Kort nadat sy as onderwyseres aan Laerskool Thabazimbi begin het, het sy in 1955 met Nicolaas (Niek) Steenkamp in die huwelik getree. Marie en Niek, wat haar in 1981 ontval het, was destyds geesdriftig betrokke in party politiek. Marie het juis op aandrang van verskeie inwoners van Thabazimbi haarself verkiesbaar gestel as een van die onafhanklike kandidate in die eerste volwaardige munisipale verkiesing van die nuwe bedeling onder bewind van die ANC.

Die egpaar se twee kinders is in Thabazimbi gebore. Emmarie in 1956 en Johan in 1961. Beide het hulle skoolloopbane hier plaaslik aan onderskeidelik Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer voltooi.

Marie was haar hele onderwysloopbaan lank betrokke by talle buitemuurse aktiwiteite en as korfbal afrigter by die laerskool het sy haar skerp oog op die spel gehad wat die dogters deurentyd aangemoedig het om hulle beste te lewer en hulle ook geprys het vir goeie hanteerwerk en doele.

Buiten haar pligte as onderwyser by Laerskool Thabazimbi het Marie steeds die tyd gevind om by diensorganisasies betrokke te raak.

Gedurende die vyftiger-sestigerjare was die dorp afhanklik van YSKOR vir hospitaal- en ander nooddienste. Daar was wel ’n gevestigde tak van die Rooikruis wat hom beywer het vir die aanbieding van Noodhulpklasse asook om ’n ambulans op ’n gereedheidsgrondslag aan die gemeenskap beskikbaar te stel.

Marie het gou ook deel van hierdie organisasie geword en betrokke geraak by die Rustenburg-tak van die Bloedoortappingsdienste wat gereeld bloedskenkklinieke op Thabazimbi en omgewing gehou het. Marie het naderhand al die bloedskenk klinieke in Thabazimbi gereël en sy het ’n spesiale toekenning van die Bloedoortappingsdiens ontvang vir die 60 jaar wat sy die klinieke in Thabazimbi gereël het.

Gedurende die laat sewentigerjare het die behoefte sodanig gegroei dat die Thabazimbi-tak van die Lionsklub ter plaatse gestig is met Marie Steenkamp ook deel daarvan. Lionsklub is net soos die Rotariërs ’n diensorganisasie wat binne die gemeenskap projekte skep waarmee fondse ingesamel word wat dan weer op een of ander manier tot voordeel van die gemeenskap aangewend word. Die fondse is ingesamel wat gebruik is om instansies soos die Rooikruis, liefdadigheidsorganisasies en skole finansieel te ondersteun.

Die Lionsklub het ook sy sytak gehad waar die vroulike lede in die Lionessklub betrek is waar Marie ’n groot rol gespeel het in besluitneming oor hoe hulle die oorhoofse projekte kan ondersteun soos met die Lion Kerskoeke wat jaarliks plaaslik verkoop is.

Marie het ’n vroeë pensioenpakket gedurende 1992 aanvaar maar weereens het sy nie stilgesit nie. Dit het nie lank geneem nie of Marie was ook betrokke by die stigting van die Seniorburgerklub waartydens uitstappies en sprekers by Bosveld Oord gereël is en waar die seniors heel gesellig kon verkeer. Op haar eie het Marie ’n klein bibliotekie by Bosveld Oord ingerig wat staatgemaak het op skenkings om die inwoners van leesstof te verskaf.

Netso was Marie ’n groot dryfveer dat Tambotie Versorgingsoord vir die versorging van verswakte bejaardes reeds vanaf 2007 hulle eerste inwoners kon ontvang. Met Bosveld Oord die enigste selfsorg ouetehuis waar inwoners vir hulleself moes sorg vir etes asook persoonlike higiëne, moes inwoners wat verswak raak en hierdie funksies nie meer self kan behartig nie, oorgeplaas word na buurdorpe weg van familie en vriende, wat wel oor versorgingseenhede beskik het.

Met die daarstelling van Tambotie Versorgingseenheid kon hierdie verswakte bejaardes hier op Thabazimbi geakkommodeer word. Vir etlike maande nadat Tambotie sy deure oopgemaak het, was Marie die bestuurder van die eenheid.

Marie se planne het nie daar geëindig nie. Met Tambotie wat die rol vertolk het met die verswakte bejaardes, het daar het steeds ’n leemte bestaan vir bejaardes wat sorg moet ontvang maar wat nie heeltemal verswak en bedlêend is nie.

’n Vergadering is deur die Bejaardesorg Trust belê om die idee te bespreek. Met slegs R206 000 tot hulle beskikking het die projek net op papier bestaan aangesien die beraamde koste sowat R4,3 miljoen beloop het. Die vergadering wat in Mei 2007 gehou is, het een resolusie aanvaar. Dit was die naam “Huis Immergroen”, die naam wat aan hierdie gedagte op papier toegeken is en wat ook die bal aan die rol gesit het.

Die planne was teen Junie 2007 opgetrek en op 24 Februarie 2009 het Marie self die eerste sooi gespit vir die gebou se fondasies.

Buiten die susterkerke wat hard gewerk het met fondsinsameling, is die hele gemeenskap betrek om die projek ’n werklikheid te maak. Sedert 13 September 2011 toe Huis Immergroen sy deure vir nuwe inwoners oopgemaak het, is dit ’n werklikheid wat ’n noodsaaklike rol in die versorging van die omgewing se bejaardes speel.

Marie was toegewy tot die versorging van die bejaardes. Tog het sy haarself nie die voorreg van versorging toegelaat nie, daarvoor was sy te besig. Gedurende 2012 het sy via Kwêvoël ’n ernstige beroep op die hele bosveldstreek-gemeenskap, so ver as Nylstroom, Ellisras, Leeupoort, Rooiberg, Koedoeskop, Northam, Swartklip en al die ander omliggende gemeenskappe gedoen om betrokke te raak by bejaardes en die versorging van bejaardes.

“Kom ons maak 2012 dié jaar vir ons bejaardes. ryk uit na hulle. Dis ons mense: Pa’s, ma’s, oumas en oupas.”

Marie Steenekamp as koördineerder vir fondsinsameling vir die Bejaardesorg Trust vir Huis Immergroen in Thabazimbi en haar span, was jaarliks gedurende Desember tot kort voor Kersfees, by Shoprite Thabazimbi waar hulle geskenkpakkies teen ’n donasie toegedraai het.

Weens die feit dat sy moeilik geloop het as gevolg van ‘n lastige knie, was sy nie persoonlik teenwoordig tydens verlede jaar se geskenk-toedraai projek nie.

Marie Steenekamp was tot die week voor haar afsterwe steeds aan die gang en sy het een keer per week met haar motor, met Eva langs haar, inkopies gaan doen. Eva moes maar die loopwerk doen terwyl Marie vir haar in die kar sit en wag het.

Marie word oorleef deur haar dogter Emmarie en eggenoot Corrie du Plessis en kinders Cornelius en Marike en kleinkinders Wildrich en Emke asook haar seun Johan en eggenote Annette en hul kinders Anja en Nicolaas en kleinkinders Nicole, Jaco en Lukas-Lodewyk, asook vyf agterkleinkinders.

2021 April 15 Ter Herinnering aan Marie Steenekamp