CommunityFeatured

Bekende oud onderwyseres en boervrou oorlede

Een van die bekendste boervrouens in die Rooibokkraal omgewing, Erika Lee, is oorlede na ’n kort siekbed nadat sy die week van tevore siek geword het.

Toe haar gesondheid nie verbeter nie is sy Maandag 8 Maart in Mediclinic Hospitaal op Thabazimbi opgeneem waar Covid-19 infeksie by haar gediagnoseer is. Dinsdag 9 Maart het haar toestand skielik verswak en daar is besluit om haar na Brits Mediclinic oor te plaas waar sy op ’n ventilator geplaas is. Haar toestand het bly versleg en sy is die aand om 21:00 oorlede.

Erika se algemene gesondheidstoestand het oor die laaste tyd verswak na sy in die afgelope vyf jaar twee rugoperasies en ’n heupvervanging gehad het. Dit het haar egter nie van stryk gebring nie en sy was steeds aktief by die VLU, waarvan sy reeds die afgelope 44 jaar lid van was, betrokke.

2021_Maart_11_Erika_Lee_Foto_2_grappie
Strewe VLU: “Dis hoe ons haar gaan onthou – altyd ‘n grappie!

Die skakelbeampte van Strewe VLU, Ilna Schutte, het aan Kwêvoël gesê dat Erika gedurende 1977 as lid by Strewe-tak aangesluit het. Gedurende hierdie tydperk by Strewe het sy ondermeer as skakelbeampte en sekretaresse gedien en het gedurende 2017 haar 40-Jaar lidmaatskapknopie ontvang.

Erika het aan die VLU kompetisies deelgeneem en het gereeld pryse met haar kunswerke tydens die VLU Kongresse gewen. Haar mees onlangse prys, ’n tweedeplek vir ’n “Gemengde Kunswerk”, het sy nooit ontvang nie. Die oorhandiging van die prys sou Donderdag 11 Maart tydens ’n geleentheid wat op Ellisras aangebied is plaasvind.

Volgens Ilna was Erika ’n vriendin vol wysheid en pret – “Ons gaan haar baie mis!”, het sy gesê.

Volgens Callie het Erika ’n belangstelling in feitlik alle kunsvorme gehad maar sy het later jare met skilderwerk begin uitblink.

Erika (Sonnekus) het in Bethlehem in die Vrystaat opgegroei en ook daar haar skoolloopbaan voltooi. Sy het daarna aan die Normaal Kollege in Pretoria haar as onderwyser bekwaam. Dit was juis hier waar sy vir Callie ontmoet het. Na onderwyskollege het hulle ’n tyd lank in Pretoria skoolgehou.

2021_Maart_11_Erika_Lee_foto_Ma_Erika_Lee_foto_9_Rentia_-_Makylee___Michael
Erika saam met Makylee en Michael.

Die twee is in 1972 getroud en het na Thabazimbi verhuis waar albei onderwysposte op Thabazimbi aanvaar het en ook deeltyds begin boer het. In 1980 het hulle besluit om voltyd te gaan boer. Erika het toe by Laerskool Van Wykskraal onderwys gegee waar sy haar passie vir kleiner kinders uitgeleef het.

Alhoewel Erika voltyds by al die fasette van die boerdery betrokke was en ’n groot deel van die administrasie behartig het, was sy steeds instrumenteel betrokke om die Makoppa skool (Laerskool Van Wykskraal) oop te hou toe dit moes sluit as gevolg van dalende leerlinggetalle. Hierin was sy totaal onbaatsugtig en het vir ’n tyd lank sonder om salaris te ontvang skoolgehou.

Callie en Erika het vir 53 jaar ’n lewe gedeel waarvan hulle op 1 Julie vir 49 jaar getroud sou wees. Hulle het drie kinders Hardus, Rentia en Maryke. Hardus is getroud met Jeanette en hulle het twee seuns, Carl (12) en Eugene (8). Rentia is getroud met Clive en hulle het ’n dogter Makylee (6) en seun Michael (4). Callie en Erika se jongste dogter, Maryke, het hulle in ’n motorongeluk in 1999 verloor toe sy 18 was.


Erika se kinders en kleinkinders was haar hele wêreld. Volgens haar kinders was Erika ’n baie geliefde en belangstellende ouma wat altyd saam met die kleinkinders geswem, geteken en skaak gespeel het. Sy was ook baie lief vir diere, insekte en die natuur. Erika was baie geliefd en gaan deur almal baie gemis word.

‘n Aankondiging oor wanneer die Gedenkdiens vir Erika gehou sal word sal op ‘n latere stadium gedoen word.

Foto’s verskaf deur Strewe VLU-tak: Uit die argief: Erika – haar kunswerke en toekennings