Vollie nader die Groot 90
Een van Thabazimbi se oudste inwoners, Vollie Volschenk, het Donderdag 11 Maart sy 89ste verjaarsdag gevier.
Vollie, met ’n voorgee van 21, is steeds ’n ywerig gholfspeler wat elke Woensdagmiddag saam met sy gholfmaats, dr Willem du Plessis, Jakkie van der Wateren en Jacques van Eyssen, ’n ronde sosiale gholf by die Thabazimbi Gholfklub gaan speel. Hy is ook steeds lid van Sages en speel gereeld saam waar moontlik.
Weens ’n artroskopiese operasie aan beide sy knieë aan die einde van 2020, was sy beweging bietjie gestrem en moes hy wag totdat hy voldoende herstel het voordat hulle weer met die vierbal kon voortgaan.
Vollie se ander liefde, buiten Rita, is natuurlik sy kreatiewe skryfwerk waarmee hy hom steeds besig hou. Verlede jaar, op sy verjaarsdag, het hy die voorreg gehad om ’n bundel van sy werke, “Eenvoudig Dis Ek, in ontvangs te neem.
Vollie en Rita Volschenk rustig in hulle tuin op Thabazimbi. Vollie het Donderdag 11 Maart sy 89ste verjaarsdag gevier. Weens ander verpligtinge kon Vollie se twee dogters wat in Suid-Afrika woonagtig is, nie sy verjaarsdag saam vier nie, maar het hom verras met ’n kuiertjie die naweek voor sy verjaarsdag. Hulle is op die foto saam met Vollie en Rita, Dineke heel links en regs is Karin en haar man Denis.
Die bundel bestaan uit sommige van sy gedigte asook verskeie kortverhale en prosa stukkies. Die druk daarvan was die prys wat hy losgeslaan het in ’n kompetisie wat jaarliks deur die Genootskap van die Handhawing van Afrikaans jaarliks geloods word. Al die wen-gedigte word in ’n bundel na afloop van die kompetisie uitgee.
Vir verlede jaar se kompetisie het hy sewe gedigte ingeskryf waarvan vyf vir publikasie in die digbundel aanvaar is. Vir vanjaar se kompetisie het hy oorspronklik vyf berigte ingeskryf. Die organiseerders het deelnemers die kans gebied om nog ’n gedig, wat oor die inperking moes handel, in te dien. Vollie het so gedoen en sy spesifieke gedig oor hierdie onderwerp is vir insluiting in die digbundel goedgekeur. Dit bring die aantal gedigte van hom wat vir vanjaar se kompetisie vir die digbundel gekies is, weereens op vyf te staan.
Weens die Covid-19 Inperking kon daar nie die groot verjaarsdagviering soos verlede jaar by die Gholfklub aangebied word nie en Vollie en Rita het dit rustig tuis saam met ’n paar vriende gevier.
Verlede jaar het Vollie se suster Talla, spesiaal vanaf Cyprus waar sy woonagtig is, vir hom op sy verjaarsdag kom verras. Sy het nog ’n rukkie by hom en Rita op Thabazimbi gekuier waarna sy terug is na Pretoria om haar vlug huis-toe te haal. Die dag voordat sy op die vliegtuig moes klim, is die Covid-19 Inperking afgekondig en sy was in Suid-Afrika vasgekeer.
Vollie het gereël dat sy weer terugkom na Thabazimbi waar sy toe vir meer as twee maande verder gekuier het voordat daar ’n terug-vlug vir haar gereël kon word.