CommunityFeatured

Kunsleerlinge leer meer oor Akriel-verftegnieke

Die kunsstudente van Hoërskool Frikkie Meyer het Maandag 8 Maart die voorreg gehad om ’n werkwinkel by te woon waar hulle meer oor akriel-verftegnieke geleer het en dit ook prakties toegepas het.

Die klas is deur die ATKV-tak van Thabazimbi geborg en deur Zettie Pelser, een van die dorp se bekendste skilders aangebied.

Die leerlinge was die oggend reeds vanaf agtuur gereed en opgewonde om meer hieroor te leer en hul verwagtinge is nie teleurgestel deur die praktiese toepassing en die resultate aan die einde van die klas toe hulle die middag 15:00 die werkwinkel afgesluit het.

Zettie het aan die leerlinge gesê dat dit vir haar verblydend was om soveel jong aspirant kunstenaars bymekaar te sien. Dit is ’n groot voorreg om reeds op skool kuns as ’n formele vak te neem aangesien die meeste ouer kunstenaars eers geleentheid as volwassenes gehad het om formele kunsklasse by erkende kunskenners en -onderwysers te ontvang.

Sy het self eers sowat 20 jaar gelede besluit kuns haar erns te maak en het vir sowat sewe jaar elke Maandag deurgery Rustenburg-toe om kunsklasse by die bekende Elrieze Buitendach bygewoon.

Dit het sy opgevolg met maandelikse klasse in Pretoria by ondermeer Willie Jacobs en Ina Wilken. Tydens hierdie kunsklasse het sy met verskeie tegnieke te doen gekry, maar die een tegniek waarin sy voel sy haar totaal kan uitleef is olieverf wat sy steeds beoefen.

Soos Zettie verduidelik, het elke tegniek sy eie unieke aanwending vir elke besondere persoon. Akriel is ’n medium waar jy nie jou tyd kan verspeel nie aangesien die verf baie vinnig droog word. Hier in die warm Thabazimbi bosveld moet jy jou storie ken om te sorg dat die verf op jou doek en op die pallet nat genoeg bly om mee te werk.

Sy het dan ook verskeie wenke aan die leerlinge deurgegee om in hierdie doel te slaag. Die een is om ’n sproeibottel met water byderhand te hou en die verf gereeld liggies op die doek en pallet werkbaar te hou.

Aangesien jy nie noodwendig aanhou met verf tot die skildery klaar is nie, moet die verf ook sodanig geberg word dat dit steeds bruikbaar is teen die tyd dat jy weer aan die skildery kan werk. Hier het sy dan ook ’n baie eenvoudige en praktiese manier aan hulle verduidelik waarmee baie tyd gespaar en onnodige verspilling beperk kan word.

Elke leerling moes ’n gedrukte prent van troeteldier wat hulle dan op doek sou verewig. Eers moet die prent op die doek geskets word en hier het Zettie die blokkie metode aan hulle oorgedra waar die prent in vertikale en horisontale ewewydige lyne, presies op dieselfde afstand van mekaar met ’n potlood getrek word om vierkante soos op ’n skaakbord te vorm. Dieselfde word met die doek gedoen. Hier kan die skaal vergroot word deur die wydte van ’n lineaal te gebruik, solank daar dieselfde aantal horisontale- en vertikale lyne is as op die prent wat op die doek gekopieer moet word. Die metode word gebruik aangesien leerlinge nie noodwendig almal vaardig is om ’n vryhandskets van die prent op die doek te teken nie.

Blokkie vir blokkie word die buitelyne van die beeld na die doek oorgedra met al die detail van die oë, ore bek, pote, ens. Dit word met ’n HB potlood of houtskoolpen gedoen. Sodra die lynskets voltooi is word dit liggies met haarsproei bedek om seker te maak dat die lyne nie uitgevee word sodra die verf daarmee in aanraking kom nie.

Sy het ook die leerlinge aangeraai om ’n groot kwas te gebruik om mee te skilder aangesien dit meer vryheid tot jou kreatiwiteit bied. Zettie het verduidelik dat jou kreatiewe gedeelte in die regterbrein gesetel is. Dit is nie altyd net moontlik om die ommeswaai van die linker na die regterbrein te maak nie. “Gebruik die dik kwas om jou te help om na jou regterbrein oor te skakel,” het sy gesê.

Om jou te help met ’n kunswerk van ’n dier of mens, begin by die oog sodat jy voortdurend oogkontak met jou skildery kan maak. Hy kan vir jou sien en jy vir hom.

Slegs die drie basiese kleure van geel, blou en rooi (plus wit) word gebruik waaruit die leerlinge al die ander kleure self moes meng. Dit neem nogal heelwat oefening, maar met die hulp van Zettie en hul vakonderwyser, Christie Brits, het hulle tog gesnap dat dit moontlik is.

Daar was ’n doodse stilte soos elkeen op sy skildery gekonsentreer het met die twee kunsinstrukteurs wat soms by ’n groepie gestaan of gaan sit het en meer verduidelik en gehelp het.

Aan die einde van die werkwinkel het al die studente hulle werkstukke uitgestal, voltooi of net gedeeltelik voltooi, dit was alles die moeite werd.

Gedurende ’n onderhoud met Kwêvoël na afloop van die klas het Zettie gesê dat sy beïndruk is met hierdie baie oulike studente waar daar baie sluimerende potensiaal is en verskeie wat duidelik baie begaafd is. Daar is een voorwaarde, die stimulus moet voortdurend daar wees, hulle moet net volhou waarmee hulle begin het.

Met die tipe van toewyding aan die kunsstudente is dit ook geen wonder dat Christie Brits se visuelekunsstudente verlede jaar die hoogste vakgemiddeld naamlik 79,67% vir die Waterberg streek behaal het nie.