FeaturedSport

Plaaslike skuts presteer op Veldboogskiet kompetisie

Thabazimbi Boogklub het, het gasheer gespeel vir die eerste SANIFAA Veldboogskiet kompetisie vir 2021. Die kompetisie is vanaf Saterdag 20 Februarie tot Sondag 21 Februarie aangebied.

Die kompetisie is wyd ondersteun met top-skuts wat vanaf Kaapstad, Phalaborwa en Middelburg opgedaag het. Die Thabazimbi baan was in ’n uitstekende toestand, danksy die insette van Jaco van Vuuren en Gert Snyman. Dit het dan ook gelei tot hoë kwaliteit prestasie terwyl die bloedig warm Bosveldson nie geskroom het om die deelnemers te verbrand nie.

Die skuts wat tydens die inperking steeds kon oefen het die resultate in hul vorm en die ewenaar van hul persoonlike beste tellings gesien maar in die tellings was dit ook duidelik dat die lang inperking sy tol van sommige deelnemers geëis het met lywe wat oor nie meer so fiks is nie.

Weens Covid-19 inperking regulasies kon daar geen prysuitdeling aangebied word nie en alle Kategoriewenners kan besonder trots wees op hul prestasie.

Twee besoekers, Pierre van der Merwe van Archers Edge in Pretoria en Hennie Kruger van Phalaborwa, het die rit aandurf om SANIFAA se eerste boogskiet vir 2021 op die Thabazimbi baan af te skop. Hulle was dan ook baie tevrede met die puik resultate wat hulle opoffering gelewer het.

Heelwat skuts van Hoërskool Frikkie Meyer het deel van die inskrywings uitgemaak. Hulle kon reeds gedurende die inperking begin oefen en dit is dan ook duidelik uit die tellings wat die dag geskiet is. Die skuts van Hoërskool Frikkie Meyer het in verskillende afdelings deelgeneem waar daar agt nasionale tellings en drie provinsiale tellings geskiet is.

Die skuts van HFM wat almal eerste plekke in hul afdelings geskiet het, was Kruger van Zyl, Maya Broekhuizen en Ameij Broekhuize.

Tweedeplekke het gegaan aan Meagan Schamrock, Henkie Botha en Theaan Scheepers terwyl Lieselotte Smit en Devonric Swart beide derdeplekke losgeskiet het.

Die Nasionale Veldboogskiet kompetisie word vanaf Saterdag 20 Maart tot Maandag 22 Maart ook op Thabazimbi Boogskietklub se uitsonderlike baan aangebied. Altesaam 78 inskrywings van regoor die land, wat strek van Wes-Kaap deur Mpumalanga tot by Tzaneen, is vir die kompetisie ontvang. Deelnemers begin reeds vroeg Saterdagoggend die eerste pyle skiet. Thabazimbi Boogklub sien angstig uit na hierdie byeenkoms waar hulle weereens hul vaardighede op die toets kan stel.

Thabazimbi Boogklub is ’n sosiale skietklub wat elke Dinsdagaand om 18:00 bye die Koos Cronjé skietbaan vergader. Hulle verwelkom besoekers wat graag ook hierby betrokke wil raak.

Sien volledige lys van uitslae hieronder: