CommunityFeatured

100 Persent slaagsyfer vir HFM Matrieks

Hoërskool Frikkie Meyer se matriekklas van 2020 het nie alleen daarin geslaag om ’n 100 persent slaagsyfer te behaal nie, maar die skool tree met hierdie prestasie ook uit as wenner van die Akademiese Interhoër vir Waterberg.

Die Thabazimbi-Kring het ook die beste gevaar in Waterberg-2 met ’n gemiddeld van 94,19 persent terwyl Waterberg-2 ook met die louere wegstap met ’n gemiddeld van 77,5 persent. Die Nasionale Gemiddeld van 67,2 persent word dus deur HFM, die Thabazimbi-Kring en die Distrik oortref.

’n Opsomming van die uitslae toon dat 95 (71%) leerlinge Universiteitstoelating, 35 (27%) leerlinge toelating tot Diploma-Studies en 4 (2%) leerlinge toelating tot Sertifikaat-Studies ontvang het.

Daar was ook ’n ryke simbole-oes met 186 onderskeidings (A-simbole), 165 B-simbole en 214 C-simbole.

HFM se Top-5 uitblinkers was Ruvé Blaauw wat met agt onderskeidings die meeste onderskeidings ingepalm het en met ’n gemiddeld van 91 persent die tweede hoogste gemiddeld behaal het; Daniël van Zyl het die hoogste gemiddeld behaal met 91,43 persent en daarmee saam ook sewe onderskeidings verdien. Hulle word gevolg deur Gustav Grobler met ’n gemiddeld van 85,75 met sewe onderskeidings; Melissa Fritz met 93,71 persent gemiddeld en vyf onderskeidings en Lynette Steenekamp met 83,86 persent en ook vyf onderskeidings.

Matrieks met hoogste vakgemiddeldes:

2021 feb Matrieks foto 7 Ruve
Die hoof van HFM, Colin Campbell, saam met Ruvé Blaauw wat met agt onderskeidings agter haar naam Matriek geslaag het.

Daniël van Zyl het die hoogste vakgemiddeldes gehad in Wiskunde (95%), Rekeningkunde (94%), Fisiese Wetenskap (88%) en Inligtings Tegnologie (96%).
Ruvé Blaauw het die hoogste vakgemiddeldes gehad in Afrikaans Huistaal (91%), English First Additional Language (92%), Rekenaar Aanwendings Tegnologie (91%) en Lewens Oriëntasie (100%).
Caronay Fouché het die hoogste gemiddeldes gehad vir Wiskundige-Geletterdheid (90%) en Toerisme (92%).
Dané Coetzee behaal die hoogste gemiddeld vir Besigheidstudies (96%); Kayla van der Merwe vir Ekonomie (88%) en Jene Low vir Hospitality Studies (78%).

Uit agtien vakke waarin eksamen afgelê is behaal HFM ’n 100 persent slaagsyfer. HFM het verder presteer met die beste vakgemiddeldes vir Visuele Kuns/Art (79,67%), Lewensoriëntering/Life Orientation (78,76%), English First Alternative Language (69,45%), IT (68,5%) en Siviele Tegnologie/Civil Technology (68,13%).

2021 feb Matrieks foto 2
Van links: Die hoof van HFM, Colin Campbell, saam met die personeel, Tiaan Schmitd, Martie Boshoff en Gerhard van Rensburg (beheerraad), wag die matrieks van 2020 by die hoofhek in om hul matriekuitslae te kom afhaal.

Die hoof van Hoërskool Frikkie Meyer, Colin Campbell, het ten slotte gesê dat die Klas van 2020, die ‘Jaar van die Coronavirus – die pandemie en sy inperking’, het ’n prestasie behaal wat moeilik geklop gaan word.
“Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vir Graad 12 leerlinge het weereens bewys dat Hoërskool Frikkie Meyer ’n uitsonderlike skool is. Die slaagsyfer van 100 persent was ’n styging van 1,3 persent teenoor dié van 2019.” Campbell het ook daarop gewys dat Hoërskool Frikkie Meyer se slaagsyfer die afgelope elf jaar gemiddeld 99 persent is.
Hy het afgesluit deur die leerlinge geluk te wens met hul prestasie en hulde te bring aan elke onderwyser en die personeel in sy totaliteit wat werklik hul eie gesondheid op die spel geplaas het ter wille van die leerlinge.