AgriculturalCommunityFeatured

Minimumlone vir plaaswerkers: Insette geïgnoreer

Agri SA sê dat die vermaning dat die onmiddellike gelykmaking en verhoging van plaaswerkers se lone onvolhoubaar vir die landbousektor sal wees, is deur die departement van indiensneming en arbeid geïgnoreer in die bepaling van die nuwe minimumloon wat die afgelope week bekend gemaak is.

“Agri SA en sy affiliasies is deeglik bewus van die behoeftes van plaaswerkers en hul gesinne. Die armste huishoudings het egter toegang tot werkgeleenthede nodig, terwyl diegene wat reeds in diens is, behou moet word.”

Die onmiddellike gelykmaking en verhoging van lone sal menige werkgeleenthede in gedrang bring – ’n ongewenste situasie. Die departement van indiensneming en arbeid het op 8 Februarie die jaarlikse aanpassing van die nasionale minimumloon vir 2021 gepubliseer. Ingevolge die hersiene aanpassing sal plaaswerkers geregtig wees op ’n minimumloon van R21,69 per uur.

Agri SA het die departement daarop gewys dat die landboubedryf ’n veelsydige sektor is wat bestaan uit meestal klein- en mediumskaalboere, terwyl grootskaalse kommersiële boere slegs ’n klein persentasie van die bedryf uitmaak. “Hierdie klein- en mediumskaalse boere moes reeds die gevolge van die onlangse droogte absorbeer, wat vererger is deur die uitwerking van die pandemie.

Die meeste kommissarisse is blykbaar van mening dat die uitwerking van die pandemie op die landbou minimaal was. In werklikheid is subsektore soos die wynbedryf twee keer deur ’n verbod op verkope geraak, terwyl tabak-, wol- en gortproduksie nie as noodsaaklike dienste gedurende die inperking verklaar is nie. Hul bedrywighede is dus ernstig geknou gedurende die afgelope paar maande.

Dié bedrywe sukkel nog om te herstel ná die verliese wat hulle gely het gedurende die harde inperking. Laasgenoemde het ’n vernietigende uitwerking op die vraag na landbouprodukte tot gevolg gehad. Boere in droogtegeteisterde dele soos die Noord-, Oos- en Wes-Kaap is steeds onder geweldige finansiële druk.

Indien boere nie voedsel op ’n bekostigbare grondslag kan produseer en landbouwerkers grootskaals in diens kan neem nie, kan dit aanleiding gee tot ’n voedselkrisis en grootskeepse maatskaplike onrus wanneer voedselonsekerheid en werkloosheid begin kop uitsteek.

Die Covid-19-pandemie gaan voort om verwoesting te saai en werkloosheid is aan die toeneem. Addisionele produksiekoste sal aan die verbruiker oorgedra moet word en sodoende voedsel meer onbekostigbaar maak vir diegene vir wie die minimumloon veronderstel is om te bevoordeel.