EditorialFeaturedHealth

Terugslag met AstraZeneca entstof – Plan B vir regering

Die een miljoen AstraZeneca dosisse entstof wat verlede week met groot fanfare in Suid-Afrika aangekom het, het die hoop laat opvlam dat die program om diegene in die voorste linie van die stryd teen Covid-19 teen die siekte naamlik die gesondheidswerkers in te ent, nou ’n aanvang kan neem.

Ongelukkig het twee faktore na vore getree wat hierdie hoop ’n terugslag gegee het. Die eerste faktor naamlik die feit dat die entstof blykbaar nie opgewasse is teen die Suid-Afrikaanse variant van die siekte om selfs effense of middelmatige Covid-19 besmetting te voorkom nie.

Hierdie stelling is gemaak in ’n verslag met die resultate van die proewe van die Astra Zeneca entstof op deelnemers in Suid-Afrika, wat Saterdag deur die Verenigde Koninkryk se Financial Times gepubliseer is. Selfs nie die tweede dosis het geen verskil aan die uitslag gemaak nie, het die verslag voorts gelui.

Nog ’n probleempunt wat kommer uitlok is die feit betreffende die vervaldatum van die spesifieke besending entstof wat ontvang is.

Na die aankoms van die entstof op OR Tambo Internasionale Lughawe op 1 Februarie, is die entstof aan die sorg van die SA Gesondheidsprodukte Beheerliggaam (SAPHRA) oorgedra wat volgens wetgewing die kwaliteit van die besending moet verifieer voordat dit gebruik kan word. Hierdie proses word tans by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein uitgevoer.

Dit het intussen bekend geword dat die Departement van Gesondheid en SAHPRA hul kommer uitgespreek het oor die feit dat die besending se vervaldatum gedurende April is. Aangesien ’n tweede dosis na die verloop van etlike weke toegedien moet word, kan dit gebeur dat indien die administrasie hiervoor nie 100 persent glad verloop nie, die entstof kan verval voordat baie van die mense wat reeds die eerste inenting ontvang het die tweede inenting moet ontvang.

Volgens professor Shabir Madhi van Wits Universiteit sal dit roekeloos van Suid-Afrika wees om die AstraZeneca entstof, waarvan die ontplooiing vir eers gestop is, summier te verwerp.

Aanvanklike data het getoon dat die AstraZeneca entstof minimale beskerming teen effens infeksie van die dominante variant bied.

Madhi het verder aangevoer dat Suid-Afrika duur vir die entstof betaal het en sy mening is dat die alle entstowwe in die algemeen beter werk in die rol wat dit het om ernstige siektes te voorkom.

Hy sê al kan daar nie ’n tweede dosis van dieselfde entstof toegedien word nie, is dit dalk beter om ten minste een dosis toe te dien en dit dan op te volg met ander entstof wat dalk binne die volgende twee of drie maande beskikbaar word.

Dit is nodig om te beklemtoon dat daar geen gevaar verbonde is aan die gebruik van die AstraZeneca entstof nie. Dit is veilig, die kommer is net oor die effektiwiteit daarvan teen die 501Y.V2 variant.

Read More – Lees meer

New AstraZeneca vaccine in the works to fight SA-variant

Read More – Lees meer