‘Kleinste reptiel op aarde’ in Madagaskar ontdek
Dit wat wetenskaplikes aanvaar as die kleinste reptiel op aarde, is deur ’n gekombineerde Duits-Madagaskar ekspedisie op Madagaskar ontdek.
Die twee klein akkedissies, die grootte van ’n saad, Brookesia nana of nano-chameleon, is ’n subspesie van verkleurmannetjies.
Die mannetjie se lyfie is slegs 13,5mm lank wat dit die kleinste maak van die sowat 11 500 bekende spesies van reptiele. Met die stert bygereken is die hy 22mm lank.

Die wyfie is heelwat groter met 29mm, maar bygesê, hierdie is die enigste twee voorbeelde wat sover gevind kon word en daar word nog na ander gesoek.
Die spesifieke spesie se habitat in ’n reënwoud in die noordelike gedeeltes van Madagaskar word bedreig deur die vernietiging van inheemse woude wat daartoe kan lei dat die spesie totaal uitgewis kan word. Die spesifieke gebied is onlangs as bewaarde gebied verklaar wat die spesie ’n kans op oorlewing kan bied.
Navorsers het bevind dat hierdie diertjies gedurende die dag jag maak op myte op grondvlak en snags in grasblare vir roofspesies wegkruip.
In hulle verslag het die navorsers aanbeveel dat hierdie spesie as ‘krities bedreig’ gelys moet word in die Rooilys van Bedreigde Spesie om te help met die bewaring van hul habitat.