Runaway train Saved by the Whale’s Tail – Walvisstert keer weghol trein
’n Weghol metrorail trein is van ’n rampspoedige ongeluk gered toe dit ontspoor, deur ’n versperring gebars en die voorste wa op die stert van ’n walvisbeeldhouwerk tot stilstand gekom het. Die beeldhouwerk het verhoed dat die trein sowat 10 meter ondertoe in die water stort.
In dié buitengewone en ongewone voorval wat Maandag net na middernag in die stad Spijkenisse naby die Nederlandse hawestad Rotterdam gebeur het, het ’n reuse- beeldhouwerk van ’n walvisstert reg langs die spoorlyn die treinwa in sy val gestuit en daardeur ook verhoed dat dit die ander waens agterna sleep.
Net die bestuurder van die trein was aan boord en niemand is in die ongeluk beseer nie.
Toevallig is die naam van die beeldhouwerk “Gered deur die Walvisstert”. Die beeldhouwerk bestaan uit twee reuse- walvissterte wat uit ’n dam in ’n park steek waar die spoor eindig na die De Akkers metrostasie.