Diensbaar Projek 2020 – Voortrekkers help met sop-in-bottels
Die Voortrekkers se landwye Diensbaarheid Projek vir die res van 2020 kom baie goed te pas met die Covid-19 Inperking waar behoeftigheid toeneem.
Daar is steeds baie mense in die informele sakesektor wat geen inkomste kan verwek of werknemers is van besighede wat nie met hulle normale bedryf kan voortgaan totdat die inperking totaal opgehef word nie.
Met die Diensbaarheid Projek word leë koffiebottels gebruik om die bestanddele vir ’n sopmengsel, genoegsaam vir tot agt persone, te verpak waardeur die kreatiwiteit van die Voortrekker lede tot uiting kom deur dit op ’n aantreklike manier aan te bied.
Al die Voortrekker kinders en hul offisiere is versoek om by die projek betrokke te raak.
Sedert die stelselmatige oopmaak van die skole is die kinders die afgelope tyd skielik onder skoolwerk toegegooi met die gevolg dat die Voortrekkers ’n lae profiel gehandhaaf het. Hierdie projek bied geleentheid om kreatief betrokke te raak en terselfdertyd iets vir die behoeftige mense in die gemeenskap te doen.
Die Voortrekkers kan self die behoeftige persone aan wie hulle die bottels wil oorhandig identifiseer, maar weens die behoefte wat skielik toegeneem het is die eerste ses bottels wat ingestuur is aan die Thabazimbi Sopkombuis oorhandig wat reeds vir geruime tyd ’n grootse poging aanwend om kos aan plaaslike behoeftige persone te verskaf.
Die Voortrekker het ’n versoek van die SAVF, wat nou betrokke is by welsyn werk in die gemeenskap, ontvang waardeur die gemeenskap uitgenooi word om ook in hierdie projek te deel en help om die Bottel Projek verder uit te bou.
Die bestanddele vir die mengsel is ’n halfkoppie droë-rys of -pasta, ’n halfkoppie gedroogte sopmengsel, ’n halfkoppie lensies, een pakkies sopmengsel en een geurblokkie.
Die mengsel word in twee liter water vir 45 minute gekook en verskaf genoeg sop om vir vier mense ’n maaltyd te bedien.
Vir ’n koffiebottel, om agt mense te bied, kan die hoeveelhede net verdubbel word.
Indien u by die projek, selfs al is dit net om bestanddele en leë of vol koffiebottels te skenk, skakel gerus vir Danie Naudé by 082 738 6737 of Karin Naudé by 083 996 3237 of stuur e-pos aan: kp.naude@gmail.com. Hulle sal ook reëlings tref om die bestanddele en bottels te kollekteer.
Die Supersnuiters het weer op 1 Augustus met aktiwiteite begin nadat hulle vir ’n maand niks gedoen het nie. Sodra daar weer take vir hulle inkom sal dit na elkeen toe uitgestuur word.