Bejaardes: Bly besig en Oorleef die Inperking
Die hernude aandklokreël wat die president Sondag aangekondig het, wys dat daar steeds geen empatie van die sogenoemde Bevelsraad is vir die totale afsondering waaraan veral die ouer gemeenskap blootgestel word nie.
Besoeke aan familielede is steeds taboo. Jy mag nie jou bejaarde ouers besoek nie, die kleinkinders mis hulle ouma en oupa, ’n gemis wat kinderlik deur die grootouers ervaar word.
Wat kan jy doen om die verlange te verlig?
Kwêvoël het ’n draai by Jan en Thea Bezuidenhout in Thabazimbi gaan maak in hul skakelhuisie in Vierdelaan.
Uit die staanspoor kan jy sien dat niemand hier in-sak-en-as sit nie. Voordat ek kon aanklop, het Thea die sonstoep se deur vir my oopgemaak. Hier op die sonstoep is ook waar haar rekenaar staan. Thea is iemand wat wil weet wat in die wêreld om haar aangaan en sy geniet dit om nuus op sosiale media uit te snuffel en so tussendeur ’n potjie kaart op die rekenaar te speel.
Jan is ook nie iemand wat kan stilsit nie en op 83 gebruik hy steeds sy motorfiets as vervoermiddel, “Motorkarre is vir die vrouens”, sê hy vir my en Thea knik met haar kop. Sy bestuur steeds hul motorkar, ’n takie wat Jan maar met die grootste gerustheid aan haar oorlaat.
Jan hou hom maar besig met klein takies in en om die huis. Boonop help hy ook gereeld uit by die Watergat, die waterwinkel in die dorp. Die waterwinkel maak deel uit van die oorspronklike boute en moere winkel. Jan met sy meganiese agtergrond se kennis kom hier goed te pas en kan hy ook die regte boute en moere aan kliënte verskaf.
Thea met die Diamant borduurstuk wat sy gedurende die inperking voltooi het. Die kunsstuk bestaan uit honderde klein verskillende kleur kristalle wat dan volgens hul nommer op die korrek genommerde blokkies inpas. As in ag geneem word dat die blokkies sowat een vierkante millimeter groot is, het jy baie goeie oë nodig om dit te doen. Jan besig om water vir ’n kliënt te tap by die Watergat waar hy van tyd tot aflos.
Jan het sedert sy aftrede by die paaiedepartement gedurende 1993, nog gereeld instandhoudingswerk gedoen. Van dakke herstel, loodgieterswerk en elektriese instandhouding tot allerlei nutsman werkies. Hy het om egter aan homself beloof dat hy op 70 dit vaarwel gaan roep en bietjie kwaliteit-tyd vir homself uithou.

Gedurende normale tye is Thea, wat oor twee weke haar 82ste verjaarsdag vier, nie skaam om haar lyf aktrise te hou as Rita van die KunsteGrot op Thabazimbi haar op die verhoog benodig vir een of ander rol in ’n produksie nie. Haar eerste rol was in die “Kerkbasaar”. Toe het die Grasweduwee gevolg en daarna was sy die Maankoningin in die kinderteater-opvoering van Drakelina en die Towerklip.
Thea sê sy mis die drama die heel meeste. Hulle was juis besig om ’n nuwe toneelstuk in te studeer toe die inperking kom. Sy verlang na al die pret wat hulle op die verhoog het en hoop dat dit binnekort sal verander. Netso mis sy hulle hekelgroepie wat ook gereeld byeengekom het.
“Wat ek oor baie teleurgesteld is”, voeg Jan by, “is die blommetoer waarvoor ons reeds betaal het en vir Septembermaand bespreek was, nou is dit ook van die baan.”
“Dit is iets wat ek nog altyd wou beleef maar die geleentheid het hom nooit voorgedoen nie, tot nou dat die kerk die toer gereël het.”
Vir beide is die kinders en kleinkinders ’n gemis. Hul dogter Antoinette is op Dwaalboom en hul seun op Phalaborwa. Sy kan nog tot op Dwaalboom ry maar met die verbod wat op kuiers aan familie geplaas word kan mens nie die kans vat nie.
Jan het darem ’n jaar gelede ’n saamry geleentheid saam met een van die inwoners gehad om vir hul seun, Johan, in Phalaborwa te gaan kuier.
Thea is dalk meer gewoond aan die familie wat ver is. Sy het as 22-jarige jong vrou op haar eie besluit om na Suid-Afrika te immigreer. Hier het sy met Jan getrou en haar tuiste gevind. Haar broer het intussen ook na Suid-Afrika verhuis en bly in Carolina. Haar twee susters het egter in Holland agtergebly.
Jan en Thea stel ’n voorbeeld aan almal om eerder die positiewe voor te hou en aan te gaan met die lewe, ongeag die versperrings wat in jou pad opduik.