CommunityGeneral

Agri SA sê Néé vir Sentralisering van Voedselhulp

Agri SA sê néé vir die sentralisering van voedselhulp deur enige staatsentiteit of politikus en toekenning van humanitêre en finansiële hulp op grond van ras. Die inperkings wat ingevolge die Wet op Rampbestuur deur die regering ingestel is, het werkloosheid en hongersnood die hoogte laat in skiet. Dit hou ‘n wesenlike gevaar vir sosiale stabiliteit en die veiligheid van alle landsburgers in.

Agri SA en sy 90 plus affiliasies skenk daarom daagliks tonne voedsel aan noodlydendes dwarsoor Suid-Afrika. Groot sorg word toegepas in die versameling en verspreiding van groente, vrugte en ander nie-bederfbare voedsel en die COVID-19 voorsorgmaatreëls word nougeset toegepas tydens elke noodhulpaksie.

In die verband het individuele boere, landbouverenigings, provinsiale affiliasies, bedrywe, landboubesighede, kerke en nie-regeringsorganisasies spontaan gereageer op Agri SA se voedselhulpveldtog aan derduisende noodlydendes. Hierdie aksies kan daarom nie aan bande gelê word deur burokratiese rompslomp en drakoniese maatreëls van die staat nie! Inteendeel, Artikel 27 van die Grondwet bepaal dat elke persoon die reg het op voldoende voedsel en water.

Die Wet op Voedsel, Grimering en Ontsmettingsmiddels van 1972 wat die vervaardiging, verkoop en invoer van voedsel reguleer is nie van toepassing op die regulering van skenkings van voedsel nie. Dit geld ook vir die Wet op Landbouprodukstandaarde van 1990. Dit handel met die verkoop van landbouprodukte en is ook nie van toepassing op produkte wat geskenk word sonder dat enige vergoeding daarvoor ontvang word nie.

Daar is dus geen nasionale verbod op die verlening van voedselhulp deur weldoeners nie en geen sodanige verbod is vervat in die Wet op Rampbestuur of die Covid-19 regulasies nie. Dit is wel moontlik dat sekere plaaslike owerhede, ter wille van goeie orde en die toepassing van gesondheidstandaarde mag vereis dat persone of instansies moet aansoek doen vir permitte om voedsel te versprei. Dit maak sin om die plaaslike owerheid te ken en ingelig te hou van sodanige optrede.

Advies aan boere en organisasies wat voedsel wil versprei, is die volgende:
Verseker dat die voedsel veilig is vir menslike gebruik en dat basiese higiëniese standaarde gevolg word met die hantering en vervoer van die voedsel.
Probeer vasstel of die plaaslike owerheid binne wie se jurisdiksie die gebied val waar die voedsel versprei gaan word, wel ‘n permitstelsel het.
Gebruik verkieslik bekende welsynsorganisasies, kerke of nie-regeringsorganisasies met ‘n goeie baanrekord en ‘n bestaande permit om die verspreiding te doen.
Moet verkieslik nie self betrokke raak by die uitdeel van kospakkies nie, maar lewer dit eerder aan kerke, welsynsorganisasies of nie-regeringsorganisasies met ‘n goeie reputasie;
Sorg dat almal betrokke maskers dra, higiëne protokolle volg en die vereiste sosiale afstand van mekaar handhaaf.

Moet egter nie toelaat dat raadslede, politici en munisipale amptenare skenkings kaap en burokratiseer vir politieke doeleindes nie. Daar is geen regulasie of wet wat die sentralisering van voedselhulp deur middel van staatspakhuise vereis nie. Dit is ook onaanvaarbaar en immoreel om voedselhulp of enige ander hulp op grond van ras toe te ken.

Lokfoto: Bloemfontein Courant – Afrilede skenk voedsel