COVID-19: Inperking verslap na Vlak 4

President Ramaphosa het ’n beroep op Suid-Afrika se inwoners gedoen vir geduld en omsigtige veilige gedrag wanneer die land volgende week op 1 Mei 2020 vanaf Vlak 5 inperking na Vlak 4 inperking aanbeweeg.

Hy het dit gedoen tydens sy toespraak gisteraand, Donderdag 23 April, toe hy die nasie toegespreek het.

Die belangrikste aankondiging was dat sommige besighede toegelaat sal word om met een derde van hul arbeidsmag hul werksaamhede te hervat.

Hy het nie genoem watter besighede dit wel mag doen en wat die moontlike voorwaardes behels nie. Hy het ook mense aangemoedig om lap-gesigsmaskers te dra wanneer hulle in die publiek verkeer.

Alhoewel sigarette vanaf 1 Mei weer verkoop mag word gaan die beperking op talle ander goedere, wat nie as noodsaaklik gereken word nie, steeds van krag bly.

Meer vryheid sal aan publieke vervoer toegesê word maar reis tussen provinsies word steeds verbied en sal grense gesluit bly.

Sien die toespraak by YouTube SABC News