Gesonde 88 jaar vir een van Thaba se Oudstes
Een van Thabazimbi se oudste inwoners, mnr Vollie Volschenk, het Woensdag 11 Maart sy 88ste verjaarsdag gevier.
Hiervan was Vollie 41 jaar ‘n inwoner van Thabazimbi, nadat hy in 1978 vanaf Hoërskool Vorentoe na Hoërskool Frikkie Meyer oorgeplaas is, waar hy Afrikaans en Aardrykskude gegee het. In 1981 het hy ‘n Seniorpos by Laerskool Thabazimbi aanvaar waar hy hoofsaaklik Wiskunde onderrig het en in 1992 afgetree het.
Hy het in 1978 met met Beatrix Robbertse in die huwelik getree wat in 1985 oorlede is.
Een van Vollie se groot liefdes is gholf en hy was sedert 1979 lid van die plaaslike gholfklub en het vir bykans 30 jaar op die komitee gedien as klubkaptein, sekretaris en klubbestuurder en is dan ook een van die klub se Erelede.
Hy het gedurende die tyd ook vir 12 jaar die gholfklub op die Gauteng Noord Golfkomitee verteenwoordig. Hy het ook gereeld die gholfklub se nuus aan die Kwêvoël verskaf. Hy is ook sedert 1987 lid van Waterberg Sages waar hy ook Erekleure toegeken is.
Vollie speel nog gereeld ‘n rondte op Woensdae en sou graag meer wou speel, maar die ouderdom het ook sy beperkings.

Vollie het sy eggenote, Rita, ontmoet toe sy vanaf Ellisras na Thabazimbi oorgeplaas is na haar man se afsterwe. Nadat sy ‘n ruk in Stellenbosch werksaam was het sy weer in 1986 ‘n onderwyspos op Laerskool Van Wykskraal aanvaar.
Vollie en sy het toe weer ou bande hernu en hulle is in 1988 getroud. Sy is 1989 na Laerskool Thabazimbi oorgeplaas. Rita was ‘n toegewyde onderwyseres en was hoofsaaklik vir Wetenskap, Wiskunde en die kultuur verantwoordelik. Sy het in 2000 die rekenaarsentrum tot stand gebring. As kultuurorganiseerder het sy haar kant gebring met vele produksies, kunswedstryde en Eisteddfods.
Sy het in in 2006 die KunsteGrot totstand gebring en met groot onderskeiding van die land se bekendste kunstenaars hierheen gebring. Hier bedryf sy ook Rivo Dramaskool met groot sukses. Na haar aftrede uit die onderwys, einde 2013, is sy voltyds in die KunsteGrot bedrywig.
Vir Vollie is taal sy trots en sy eerste gediggie is reeds 1n 1942 in die destydse Jongspan, wat deel was van die tydskrif Brandwag, gepubliseer. Dig en skryf was maar al die jare ‘n deel van sy tydverdryf. Sedert die ATKV hier bedrywig geraak het was hy ‘n gereelde deelnemer aan hulle gedigte kompetisies waar hy talle toekennings gekry het.
Hy is ook verskeie jare al lid van die Woordgilde van Pretoria, waar daar ook talle van sy gedigte in bundels opgeneem is.
Twee van Vollie se dogters is ook baie betrokke by die Afrikaanse taal. Dineke was lank ‘n redaktrise by verskeie uitgewers en gee tans klas aan TUT in Pretoia. Madeleine gee tans onderwys in Hong Kong en het reeds ‘n boek die lig laat sien en RSG het ook al verskeie van haar radiodramas uitgesaai.
In 2019 het Vollie sewe gedigte ingestuur vir die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se kompetisie in Pretoria. Al sy gedigte word aanvaar en hy verdien so ‘n prys van die Groep 7 Drukkers om sy eie bundel te publiseer. Met harde werk en sy vrou se liefde en hulp kon hy so 61 gedigte wat oor baie jare ontstaan het persklaar maak en vir publikasie stuur. Dan is daar ook ‘n paar stories ingesluit waarvan daar ook reeds in Die Vrouekeur verskyn het.
Vollie was verras toe hy die eerste uitgawe van sy digbundel: Eenvoudig, Dis Ek, op sy 88ste verjaarsdag ontvang het. Meer so omdat sy suster Talla Etheridge wat op Cyprus woon ook al die pad kom kuier het. Sy beker van geluk het oorgeloop toe hy na die gholf Woensdag deur sy vrou Rita verras is met ‘n heerlike kuierpatytjie na die gholf met saam met ‘n wonderlike groep vriende.
Vollie en Rita saam met Talla Etheridge en Rita du Plessis Johan en Isabel Prinsloo is nie net ou vriende nie maar ook onderwys kollegas en mede-gholfers. Louise de Beer, wat Rita se plek volstaan by Laerskool Thabazimbi se rekenaarsentrum, en haar man Peet, het ook Vollie se 88ste verjaarsdag saam gevier. Vollie saam met sy suster, Talla, wat al die pad vanaf Cyprus kom kuier het om sy 88ste verjaarsdag saam te vier.