Geen drankverkope by kuierplekke na 6nm

Streng wetgewing van toepassing om koronavirus-verspreiding te beperk

Ingevolge nuwe wetgewing wat Dinsdag in die Staats Gazette uitgereik is word ure van drankverkope by klubs, kroeë, restaurante wat drank verkoop, shebeens en eethuise (taverns) baie beperk, so ook die totale hoeveelheid mense in die plekke.

Volgens die minister van Koöperatiewe Bestuur, Dlamini Zuma, word instansies wat drank op die perseel verkoop verbied om alkoholiese drank vanaf 6nm tot 9vm te verkoop. Restaurante mag wel na hierdie tyd oop bly maar mag dan slegs kos en nie-alkoholiese verversings bedien. Hierdie reëling geld vir weekdae en Saterdae. Op Sondae en openbare vakansiedae mag geen drank verkoop word vanaf 1nm tot 6vm nie.

By al die kuier- en eetplekke word gaste tot 50 persone beperk. Dit word gedoen in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus te beperk.
Enige persoon wat ’n byeenkoms reël en toelaat dat daar meer as 50 mense op hierdie persele is, drank verkoop na die bepaalde tyd of inmeng by ’n wetstoepasser in die uitvoer van dié se pligte, staar gevangenisstraf van ses maande en of ’n boete in die gesig.

Gedurende die tyd van die noodtoestand sal ook geen spesiale- of dranklisensies vir spesiale byeenkomste uitgereik word nie.

Die spesiale maatreëls van toepassing tydens die noodtoestand behels ondermeer dat skole gesluit sal bly tot 15 April, met die moontlikheid dat die sluiting verleng kan word afhangend van die krisis op daardie stadium.

Verder het die minister van Justisie , Roland Lamula, bekend gemaak dat geen besoekers vir die volgende 30 dae by die korrektiewe fasiliteite toegelaat sal word nie.