Helene Bester hou Nana Mouskouri lewendig by die KunsteGrot
Die geklank van die bazookis en nostalgiese liedere van sekerlik een van die mees befaamde internasionale sangers, Nana Mouskouri, het Saterdagaand die KunsteGrot gevul met die “Helene Bester sing Nana Mouskouri” vertoning.
Helene Bester, met haar swart hare en donkerraambril, het verder atmosfeer aan die vertoning gegee met haar spierwit tabberd wat die eg Griekse prentjie volmaak afgerond het.

Alhoewel daar net een Nana Mouskouri is met haar eie unieke stem, het Helene daarin geslaag om die gevoel wat Nana Mouskourie se liedjies ontlok oor te dra na die gehoor.
Helene het self ’n baie vol en nootvas stem en was beslis nie onseker met enige van die uitdagings wat Nana Mouskouri se liedjies bied nie.
Dit was dan ook ’n baie waarderende gehoor wat telkens spontaan en partykeer op aanmoediging van Helene, ritmies handegeklap en selfs saam gesing het.
Wat duidelik was, is dat daar baie volwasse mense van alle ouderdomme is wat op een of ander stadium in hul lewe met die musiek en stem van Nana Mouskouri kennis gemaak het.
Die Barnard familie was goed verteenwoordig. Agter, die jongste spruit, Gerhard, met voor van links Ma Cilie (Barnard-Van der Linde), Annerie (Barnard-Ehlers) en Maleen (Coetzee-Visser). Die Barnard swaers, Dries Visser en Gert Ehlers saam met swaer Gerhard se dogter Charla. Dan was daar ook so ’n kansie dat mense nader kennis met Helene Bester kon maak. The Girls Aerobics Circle with friends also enjoyed “Helene Bester sing Nana Mouskouri”. They are from left front: Annelie Pelser, Else Schrenck and Marien Lampbrecht. Back: Chrissy Hodge, Denise Robinson and Hazel Robinson.
Helene het as deel van die vertoning ’n kamma-TV onderhoud met Nana gevoer wat tydens die sanger se 83ste verjaarsdag opgeneem is.
Hier het die gehoor verskeie aspekte van Nana se lewe leer ken, miskien die belangrikste was dat sy nog lewe.
Dit het mens genoop om bietjie dieper te gaan grawe en meer agter te kom van hierdie werklik merkwaardige sanger wat diep spore in die vermaaklikheidswêreld getrap het sedert die laat vyftigerjare tot so onlangs as 2018 toe sy op ’n vyf-maande “Forever Young” –toer deur Europa en die VSA gegaan het.
Nana Mouskouri is op 13 Oktober 1934 gebore waar haar ouers in die dorpie Chania op die Griekse eiland Kreta gewoon het.
Haar pa was die projektor operateur in die plaaslike fliekteater en haar ma was ’n sitplekaanwyser in dieselfde teater.
Toe Nana 3 jaar oud was, het die gesin na Athene verhuis wat baie meer geleenthede gebied het waarin kinders grootgemaak kon word.
Nana het dan ook haar besondere musiektalent vanaf die ouderdom van ses laat geld toe sy en haar ouer suster, Jenny, sangopleiding by die kerkskool ontvang het. Die gesin kon egter dit nie bekostig om beide die dogters se klasgelde te betaal nie en het hulle besluit dat die een met die beste kans die geleentheid gegun moet word. Die onderwyseres het hulle daarop gewys dat Jennie die beter stem gehad het maar dat Nana die een was wat die innerlike begeerte gehad het om te sing. Nana het dan ook in 1950 toelating tot die Athene Konservatorium gekry waar sy opleiding as opera sangeres ontvang het.
Na agt jaar se verbondenheid aan die Konservatorium het Nana, op aandrang van haar vriende, met Jazz begin eksperimenteer en saans saam met hulle in klubs opgetree. Dit het bietjie erge reperkussies tot gevolg gehad, want toe haar professor by die Konservatorium uitvind dat sy betrokke was by ’n musiekvorm wat nie tred gehou het met klassieke musiek nie, het hy haar verbied om haar eindeksamens af te lê.
Volgens Nana sou sy en die ander studente van die Konservatorium tydens ’n optrede in die Epidauros amfiteater opgetree het. Toe sy by die amfiteater opdaag is daar doodeenvoudig aan haar gesê dat die Athene Konservatorium haar ook verbied het om aan die optrede deel te neem aangesien sy by ligte musiek gemoeid was.
Dit was dan ook net hier dat sy die Konservatorium gelos het en haar musiekloopbaan in ligte musiek begin het. Ook maar goed so, anders was sy dalk totaal verlore vir die wyer wêreldgehore wat nie juis eintlik veel op opera ingestel is nie.
Die wit rose van Athene sou dalk nie geblom het nie, die son sou dalk nie agter sy skadu uitgekom het nie en so sou daar talle dinge, wat sinvolle lirieke aan musiekliefhebbers gebied het, dalk op ’n operaverhoog saam met die Spook van die Opera in die kanale onder die stede verdwyn het . . . en haar naam was dalk Christene?
So van die wit rose gepraat, die oorspronklike weergawe was eers in Duits opgeneem as “Weisse Rosen aus Athen”.
Nana Mouskouri het gedurende haar musiekloopbaan meer as 200 albums en enkelsnitte in ten minste 12 verskillende tale uitgegee. Hierdie tale het ingesluit Grieks, Frans, Engels, Duits, Italiaans, Portugees, Spaans, Hebreuws, Wallies, Mandirenees, Chinees en Korsikanees.
Haar optredes was gewoonlik in vyf tale naamlik Grieks, Italiaans, Frans, Engels en Portugees.
Tydens een van die onderhoude met haar, het Nana Mouskourie genoem dat tydens ’n mediese ondersoek is daar gevind dat sy slegs oor een funksionele stemband beskik. Dit het blykbaar bygedra tot haar merkwaardige sangstem, in teensteling met haar effe, rasperige praatstem.
Die Amerikaanse sanger, Harry Belafonte, het vir Nana Mouskouri vroeg in haar loopbaan genooi om saam met hom gedurende 1966 te toer vir hul album, “Evening with Balafonte/Mouskouri”. Gedurende die toer het hy haar probeer oorreed om sonder haar dik swartraam bril op te tree aangesien dit ongehoord was dat kunstenaars met ’n bril op die verhoog verskyn. Sy was so ontsteld deur hierdie versoek dat sy na twee dae die toer wou vaarwel roep. Belafonte het maar teruggestaan en haar laat voortgaan met haar bril op die verhoog. Die bril wat so een van haar geword het dat mens jou haar nie daarsonder op die verhoog kan indink nie.
Nana Mouskouri het haar finale “Vaarwel Konsert” in 2008 gegee in die Herodus Atticus Teater in Athene – Griekeland voor ‘n gepakte gehoor. Tog was dit nie die einde nie en op die ouderdom van 80 het sy op ’n “Happy Birthday”-toer en in 2018 op ’n vyf-maande lange Europese en Amerikaanse toer, genaamd “For ever Young,” vertrek.