General

Kenia: 3 Sterf toe Residensiële Gebou ineenstort

Reuters berig dat ten minste drie mense dood en 27 beseer is nadat ’n residensiële gebou Vrydag in Kenia se hoofstad, Nairobi, ineengestort het.

Die gebou is afgesper om te verhoed dat angstige familielede die puin binnegaan op soek na vermistes.

Volgens Kenia se Rooikruis is 11 mense laat Vrydagmiddag, sowat vyf ure nadat die 6-verdieping gebou ineengestort het, uit die puin gered. Dit was onduidelik hoeveel mense nog binne die gebou was.

Kenia het reeds voorheen soortgelyke gevalle beleef. Gedurende 2016 is 49 mense dood nadat ’n gebou in een van die arm woonbuurte na ’n nag van deurdringende reën ook ineengestort het.

Die laaste voorval het in die Eastland gedeelte van die stad plaasgevind, naby aan die toneel waar ’n 7-verdieping gebou in 2017 ook ineengestort het.

Destyds het die goewerneur van Nairobi, Evans Kidero, gesê dat tussen 30 000 en 40 000 geboue in die stad riskant is aangesien dit sonder enige goedkeuring opgerig is.