Kort siekbed eis ou inwoner
’n Ou inwoner en getoë Bosvelder, Hannes Coetzee (74), is Donderdagoggend in die Thabazimbi Hospitaal oorlede na ’n kort siekbed.
Hannes, inwoner van Bosveld Oord op Thabazimbi, is Maandag opgeneem nadat hy asemhalingsprobleme ondervind het. As diabeet ondervind hy reeds vir etlike jare probleme van wisselende insulienvlakke wat later ook ondermeer tot hartversaking gelei het. Hy was op geen stadium bedlêend nie en het ook nie versorging nodig gehad nie.
Hy het vir etlike jare in die aftreeoord op Rooiberg gebly terwyl hy gewag het vir behuising in Bosveld Oord. Gedurende Oktober 2018 is ’n woonstel aan hom toegeken en het hy ingetrek. Dit het kommunikasie vir hom vergemaklik en het hy nie meer nodig gehad om die lang afstande tussen Thabazimbi, wat maar eintlik sy tuiste was, en Rooiberg af te lê nie.
Hannes is op 23 Augustus 1944 in Rustenburg gebore en was die oudste van drie kinders van Meester Pieter en Hannetjie Coetzee wat as vier-jarige kleuter saam met sy ouers en ’n jonger broer, Frans (2), vanaf Elandskraal by die huidige Mooinooi, waar sy pa skoolhoof was, na Groenvlei Sentrale skool by Sentrum verhuis het waar sy ouers die pos as hoof/prinsipaal-paar van die skool in 1948 aanvaar het.
Kommervrye dae het hy op die plaasskool geniet en hy het van kleins af in teikenskiet belang gestel. Hy en wyle Andre Swart, seun van wyle oom Pieter en tannie Christies Swart van Klippan net buite Sentrum, was boesemvriende en hy en Andre het reeds op laerskool saam met die skietkommando met .303’s gereeld op die Swart familieplaas gaan skyfskiet. Daardie dae was dit nog veilig dat hy, met die geweer aan die raam van sy dikwielfiets vasgemaak, die sowat 10km na Klippan op sy eie aangedurf het vir die skyfskietsessies.
So het hy en Andre dan ook saam na hul matriekjaar in die Weermag Gimnasium buite Pretoria (dit was die jare voor diensplig) beland en was hulle ook deel van die Weermag-skietspan wat aan die jaarlikse Bisley skyfskietkompetisie, wat by Bloemfontein aangebied is, deelgeneem het. Tydens dié kompetisie het hy dan ook ’n paar toekennings ontvang.
Hannes het sy laerskool loopbaan op Groenvlei voltooi en was deel van die eerste inname van hoërskoolleerling in die huidige Koedoe Koshuis op Thabazimbi, nog voordat die hoërskool op dieselfde perseel gebou is.
Hy sou vir die res van sy hoërskoolloopbaan die kilometer of wat na die Thabazimbise Skool stap waar die twee skole as een skool op die terrein van die huidige Laerskool Thabazimbi gehuisves was. Die laerskool was hoofsaaklik in die siersteen gebou en die hoërskool in tydelike asbes klaskamers aan die westekant van die gebou.
Sy matriekeindeksamen het hy darem in 1961 in die splinternuwe hoërskoolgebou op die terrein by die koshuis afgelê.
Na die jaar in die weermag het hy aanvanklik as student in elektriese ingenieurswese by Tukkies ingeskryf maar het toe oorgeslaan na ’n Nasionale Diploma Kursus in Diepruimte Kommunikasie (elektronika en radio) by die Johannesburg Kollege vir Gevorderde Onderwys. Na die verkryging van sy kwalifikasie was hy vir etlike jare werksaam by die Diepruimte Satellietopsporingstasie by Hartbeeshoek naby Krugersdorp.
Hier was hy deel van die gekombineerde NASA/WNNR span wat die eerste maanlanding deur middel van hulle reuse- satellietskottels en ’n skamele 4MB rekenaar (wat ‘n vertrek volgestaan het)-saam met ander satellietstasies, ondermeer in Australië, gemonitor het.
Gedurende sy laat twintiger-jare het hy die beroep vaarwel geroep om die steenmakery op Thabazimbi, wat sy ouers reeds sedert 1951 net buite die dorp bedryf het, oor te neem.
Die steenmakery het gedurende 1962 geskuif van die perseel by Donkerhoek, nou begrawe onder duisende afvalerts, na die plot Moredou waar sy ouers hulle sedert 1961 permanent gevestig het. Dieselfde jaar het sy pa ’n pos by die hoërskool op Thabazimbi aanvaar, toe nog net Thabazimbi Hoërskool met dr Klasie Claasen as nuwe hoof terwyl die voormalige hoof van Thabazimbise Skool, mnr Pieter Botha, die aanstelling aanvaar het as die hoof van die nuwe Laerskool Thabazimbi.
Sy pa het toe die ou pok-tipe steenmakery opgegradeer na ’n moderne steenfabriek wat die kapasiteit met meer as 1000 persent opgestoot het. Die fabriek is op die plot Moredou, waar hulle gebly het, opgerig.
Vir die eerste keer het die huis ook munisipale krag ontvang met dieselfde bedrading wat Hannes gedoen het terwyl hy op skool was toe hy ’n kragopwekker geïnstalleer het om krag aan die huis te verskaf. Die bedrading was onveranderd goedgekeur en is eers verander toe sy ouers die opstal ’n totale vernuwing laat ondergaan het met ’n teëldak en aanbouings en wetgewing vereis het dat geen los drade, wat net met isolators op die huiskappe geheg is, in die bedrading mag voorkom nie.
Hannes het die fabriek verder gemoderniseer met verbeterde en groter steenmasjiene en snytafels asook om oor te slaan vanaf die gewone rooikleigrond wat gebruik is, na skallieklip wat deur ’n klipbreker gemaal is tot ’n fyn materiaal wat as klei gebruik is.
Hannes was maar ’n alleenloper en het eers op die ouderdom van 40 hom in die huwelik begeef toe hy in 1984 met Maleen Barnard getroud is. Uit die huwelik is twee kinders, Johan en Corlia gebore.
Johan en sy vrou is tans woonagtig in Amerika terwyl Corlia en haar gesin op Thabazimbi bly.
Hannes het as jong sakeman moontlikhede vir nuwe sake vinnig geïdentifiseer. So het hy dan ook Thabazimbi se eerste drukkery op die been gebring. Die drukkery is die jaar daarna deur sy jongste broer, Pieter (Kwêvoël) by hom oorgeneem, wat dan ook gelei het tot die totstandkoming van Thabazimbi se eerste gedrukte dorpskoerant.
Alhoewel nie meer betrokke by die drukkery nie, het Hannes se brein nie stilgestaan nie en was hy verantwoordelik dat die saadjie vir ’n eie koerant vir Thabazimbi geplant is. Hy het dan ook ’n aandeel gehad in die uiteindelike naam van “Kwêvoël”.
Hy het nooit opgehou met droom nie en buiten ’n projek om ’n steenmakery wat amper wil terugkeer na die ou pok-stelsel met stene wat individueel gevorm word, by Mosselbaai te begin, was sy laatste projek waaraan hy gewerk het, ’n eenvoudige omsetter wat water deur ’n basiese, maar gekontroleerde, proses weer in die twee basiese elemente van suurstof en waterstof, kan omskep. Vergesog? – Dalk nie.
Hannes word oorleef deur sy twee kinders met hul gesinne, Johan en Mell Coetzee en Corlia en Deon von Czapiewski en hulle dogtertjie Aneska, asook sy twee broers, Frans wat saam met sy gesin in Amerika woonagtig is en Pieter (Kwêvoël) wat steeds op Thabazimbi woon.
Die begrafnis vind om 11:00 op Woensdag 3 Julie vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimbi plaas. Die teraardebestelling sal wees in die Thabazimbi begraafplaas.